Die Suid-Afrikaanse Departement van Handel en Nywerheid sê in 'n verklaring daar is wel nog werk wat voor dan aan die voorlopige bewoording gedoen moet word. Wanneer die dokumente gereed is, moet die Afrika-unie (AU) se staats- en regeringshoofde dit onderteken.

Onderhandelinge oor die protokol vir handel in goedere asook sy aanhangsels sal daarna afgehandel word.

Dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, was onlangs in Niger waar hy die vierde AU-vergadering van handelsministers bygewoon het. Dit is geopen deur pres. Mahamadou Issoufou van Niger, wat 'n kampvegter vir die CFTA is.

Die departement sê die vergadering van ministers is voorafgegaan deur die agtste CFTA-onderhandelingsforum en die vierde vergadering van senior handelsamptenare.

Geïntegreerde, vastelandwye mark

Die CFTA sal 'n geïntegreerde, vastelandwye mark van 1,2 miljard mense met 'n bruto binnelandse produk van meer as 2 biljoen Amerikaanse dollar skep, wat die beweging van goedere en dienste oor Afrika heen sal vergemaklik.

Dit sal volgens die departement volhoubare groei en ontwikkeling ontsluit en handel in Afrika bevorder. Dit sal ook voorkeurtoegang vir Suid-Afrikaanse goedere en dienste tot die res van die vasteland bied.

Davies het benadruk hoe belangrik Afrika se agenda vir ontwikkelingsintegrasie is, wat markintegrasie met die ontwikkeling van nywerhede en infrastruktuur kombineer.

“Die afhandeling van die CFTA sal 'n belangrike mylpaal in Afrika se integreringsproses wees en die CFTA behoort nywerheidsontwikkeling en die ontwikkeling van streekswaardekettings te bevorder.”