Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê hulle is “regtig tevrede” met die dokument, en dat hy sy hoed afhaal vir Mboweni wat onder kritiek deurloop omdat hy met die samestelling van die dokument nie die gewone protokol gevolg het nie. “Suid-Afrika se ekonomie is nou in die waakeenheid. Ek meen ons is nou verby die punt van protokolle volg.”

Die land se ekonomiese krisis is onder meer deur De Villiers vergelyk met die krisis wat ontstaan as ’n brand op ’n plaas voorkom. “Wat doen as jy as ’n brand voorkom op ’n plaas? Jy los alles anders en gaan blus daai brand.” 

De Villiers het die dokument beskryf as ’n strategie wat op “ekonomie 101” gegrond is. “Baie dankie, minister, dit is wat ons nodig gehad het! Kom ons kry nou net die werk gedoen!”

’n Krisis bou samehorigheid

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het ook die voorbeeld van ’n brand op ’n plaas gebruik om uit te beeld hoe mense oor alle grense heen kan saamwerk om ’n krisis te bowe te kom. Volgens hom sien ’n mens hoe verbeter maatskaplike samehorigheid oor grense heen om saam ’n krisis te bowe te kom.

“Wanneer die oesdag aanbreek, sien jy maatskaplike samehorigheid; wanneer daar ’n sterfte is, trek almal saam; wanneer daar ’n troue is, is almal opgewonde. ’n Krisis skep ook ’n geleentheid vir maatskaplike samehorigheid.”  

Meyer het Nasie in Gesprek bedank vir die rol wat hy vervul om ’n platform te skep vir mense om met mekaar oor maatskaplike probleme te praat.

Agentskap

Een van die oplossings wat vir die ekonomiese krisis voorgestel word, is die daarstel van ’n landbou-ontwikkelingsagentskap. Me. Liona Archer, uitvoerende hoof van Bigen Africa, het gesê die agentskap spits hom toe op 20 verskillende sektore met inisiatiewe om werksgeleenthede te skep.

Dr. Johan Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, het gesê Agbiz sal konsentreer op samewerking tussen die staat en die private sektor. “Ons gesels gereeld met die belanghebbendes en die regering oor die belangrikheid van die landbou in die ekonomie, veral ten opsigte van invoer.”

Mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, het gesê van die land se 38 grootste voedsel- en veselkommoditeitsprdukte, is 24 netto uitvoerders. “As jy kyk na al die boere in die land, kommersieel, opkomende en bestaansboere, is daar ongeveer ’n miljoen boere, en hulle verskaf voedsel en vesel aan sowat 58 miljoen Suid-Afrikaners, inwoners van ander lande in Afrika en inwoners van lande op ander vastelande.”

Strydom het gesê in 2018 het die land se landbou-uitvoer sowat $10 miljard beloop, met die helfte daarvan wat na ander lande in Afrika gegaan het.

Volgens Purchase geniet marktoegang al hoe meer voorrang by die staat, veral ten opsigte van die handelsooreenkomste. Purchase het Mboweni se politieke waagmoed geprys. “Hy weet ons moet die ekonomiese krisis regkry.”  

Landboubesighede

Mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het tydens die sessie gesê ten opsigte van samewerking tussen die staat en die private sektor gaan landboubesighede al hoe meer die spil word waar rondom plattelandse dorpe draai. “Ook ten opsigte van infrastruktuur, soos ’n landboubesigheid wat ’n slegte teerpad tussen twee dorpe help regmaak.”

“Landboubesighede gaan wyer en wyer dienste moet begin lewer,” het Strydom gesê. “Ons by Senwes het onder meer ons eie internetnetwerk geskep wat in agt provinsies werk. Dit het ons vermoë verbeter om sake te doen in al 158 dorpe in die land waar ons winkels of takke het.”

Volgens Strydom het Suid-Afrikaners die vermoë om die krisisse in die land te bowe te kom.

“Suid-Afrikaners het daai ingesteldheid. Ons stap tot op die krans, soms begin ons selfs oor die krans hel, maar dan draai ons terug net voor ons afval. Suid-Afrikaners is innoveerders. Jy sien dit selfs in die manier waarop ons bestuur. 

“Ons ry nie sommer 60 km/h in ’n 60 km/h-sone nie. Ons kyk hoe ons ’n manier kan kry om vinniger as 60 km/h te ry sonder om gevang te word. As ons vir die trein staan en wag en die trein kom nie, soek ons ’n ander manier om ons bestemming te bereik. Elkeen van ons gaan wel verantwoordelikheid moet aanvaar om ons deel te doen.”

Vorster het die sessie skertsend afgesluit met dié woorde: “As dit nie was vir landbou nie, het ons almal hier gesit: kaal, honger en nugter.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.