Van hierdie boere het grond onderverhuur, terwyl hul huurooreenkomste met die staat gehad het, sê me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Dit is bekend dat baie boere grond moet onderverhuur vir ’n inkomste om die ander deel van die boerdery aan die gang te hou weens die hoë risiko en klein winsmarges van boerdery.

In ’n parlementêre vraag aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wou Steyn weet of die departement briewe gestuur het aan boere wat op staatsgrond boer waarin gevra word dat hulle die grond moet verlaat en wat die rede daarvoor is. Sy wou ook weet hoeveel boere is sedert 1 April 2019 geraak.

Didiza het geantwoord dat 36 boere sedert 1 April 2019 gevra is om staatsgrond te verlaat. Op ’n paar plase is die grond aan ’n derde party verhuur, wat op kontrakbreuk dui. In 12 gevalle in die Wes-Kaap het die huurkontrakte verval.

Glo nie die antwoord

Steyn sê die departement het besluit om net ’n paar gevalle te noem. “Ek glo nie die antwoord wat gegee is nie. Ek weet van ander boere wat ook uitsettingsbriewe gekry het. In Desember het ’n boer in Kokstad ’n uitsettingsbrief ontvang en die balju het summier op sy beeste beslag gelê. Die rede hiervoor was dat die departement glo iemand anders geïdentifiseer het om daardie grond oor te neem.”

Vroeër vanjaar het mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê provinsiale departemente van landbou het opdrag gekry dat mense nie van die grond afgesit mag word nie en dat die staat se beleid rondom die verhuring van staatsgrond gevolg moet word.

Skelmstreke

Steyn sê daar is wel gevalle waar mense van die grond afgesit kan word, soos wanneer ongerymdhede of onwettighede voorkom.

Didiza sê in haar skriftelike antwoord dat verskeie kontrakte beeïndig moes word omdat ongerymdhede plaasgevind het. Op ’n plaas in Gauteng en een in Mpumalanga het uitsettings plaasvind nadat gevind is dat onwettig op die eiendomme gemyn word. In KwaZulu-Natal is gevalle waar die grond onderverhuur, en alkohol en staatsbates onwettig verkoop is. Daar was ook verskeie voorvalle in Mpumalanga waar die grond steeds onderbenut was hoewel geld vir herkapitalisering toegestaan is. Van die produksiebates wat aangekoop is, is verkoop.