Mnr. Dimitri Jacobs, direkteur en hoof van menslike hulpbronne by Two-a-Day, sê sy veldtog om personeel in te lig oor die voordele van inentings werp reeds vrugte af. Die maatskappy se personeel het toegang tot geregistreerde verpleegsters wat die inentings toedien. Daar is ook ’n dokter beskikbaar indien newe-effekte voorkom.

“Ons het selfs ’n video gemaak toe dr. Anthony Hess ingeënt is. Hy is ’n prominente figuur in ons gemeenskap en ons hoop dit sal help om mense te oortuig dat dit veilig en voordelig vir ’n mens se gesondheid is om ingeënt te word.”

Jacobs sê die samesweringsteorieë wat op sosiale media die ronde doen, het mense afgeskrik en verwar. “Ons ent tans mense in volgens ouderdomskategorieë soos deur die departement van gesondheid bepaal. Ons bied die diens aan ons personeel en mense by ons lidplase en hul families.

“Ons moedig mense wat vir die inenting in aanmerking kom aan om te registreer en ingeënt te word. Ons bewerkstellig dit deur gereelde kommunikasie op onder meer ons elektroniese advertensieplatforms en WhatsApp-groepe.”

Sr. Cheryl Bozman en dr. Anthony Hess
Sr. Cheryl Bozman en dr. Anthony Hess by Two-a-Day. Foto: Verskaf

Jacob sê aangesien mense in die landbousektor noodsaaklike werkers is wat die land se kos moet verskaf, verwelkom Two-a-Day die geleentheid om inentings te bied aan sy personeel en diegene wat daarvoor in aanmerking kom.

“Om inentings aan die perseel te bied beteken ook dat ons personeel nie ’n dag se werk verloor terwyl hulle elders in ’n ry moet wag nie. Terwyl ons alle mense aanmoedig om ingeënt te word, is dit goed om te weet dat ons doeltreffende maatreëls ingestel het om ons personeel teen besmetting en verspreiding te beskerm.”

Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur by Tru-Cape, sê die maatskappy moedig ook sy personeel aan om ingeënt te word. “Hoewel ons voorsorgmaatreëls handhaaf om verspreiding te vermy, is inenting volgens die departement van gesondheid tans die beste beskerming teen covid-19. Ons sal aanhou om die departement se riglyne te volg.”