Onderhandelinge moes weens die pandemie opgeskort word. Dit het meegebring dat die ooreenkoms nie op 1 Julie in werking kon tree nie. In Mei het staatshoofde van die 54 lande wat reeds deel van die vryhandelgebied is, aangedui dat ’n vergadering in Desember gehou sal word waar alle uitstaande kwessies afgehandel sal word.

AfCFTA is ’n Afrika-handelsblok wat ’n gemeenskaplike mark vir goedere en dienste skep en ook makliker beweging van mense en beleggings daarstel. Die ooreenkoms sal Suid-Afrika toelaat om sy markaandeel op die vasteland uit te brei vir baie produkte wat hy produseer, aangesien die land oor die grootste vervaardigingsektor in Afrika beskik.

Carim het op ’n vergadering van die parlement se portefeuljekomitee vir handel, nywerheid en mededinging gesê daar is ooreengekom dat 90% van die tarieflyne oor vyf jaar verminder sal word, terwyl dit oor tien jaar sal geld in lande wat die minste ontwikkel is. Daar is besluit dat die tariewe jaarliks met 20% sal verminder word vir 90% van die tarieflyne.

Altesaam sewe bykomende tarieflyne sal oor tien jaar verminder word, en oor 13 jaar in lande wat die minste ontwikkel is. Drie tarieflyne mag uitgesluit word.

Hy het gesê dat 12 lidlande reeds hul tariefaanbiedinge ingedien het. Daar is volgehoue konsultasie in die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) vir ’n gemeenskaplike tarief in die Afrika-unie en op 87% van die tarieflyne is reeds ooreengekom. Huidiglik beslaan ooreengekome geografiese aanduiders (produkname) 73,1% van die tarieflyne. Daar moet nog onderhandel word rakende geografiese aanduiders vir suiker, voertuie, klere en tekstiel.

EU handel

Die Europese Unie (EU) is steeds Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, met 24,5% van die land se totale uitvoer in 2019 wat daarheen gegaan het. Die land se invoer van daar vir dié tydperk was op 29,7% ietwat meer.

Van 2013 tot 2019 het die totale handel tussen Suid-Afrika en die EU van R449 miljard tot R697 miljard gegroei. Suid-Afrika se uitvoer na die EU het in dieselfde tydperk van R161 miljard tot R319 miljard verhoog.

Die algehele handelsbalans is in die guns van die EU, hoewel die balans van R121 miljard in 2013 tot R59 miljard in 2019 verminder het. Rakende handel in landbouprodukte en verwerkte landbouprodukte presteer Suid-Afrika nie te sleg nie met ’n surplus van R4 miljard.

Hoenderstorting bly egter ’n netelige kwessie. In September 2018 het die SADU ’n bilaterale beskermingsbelasting ingestel van 35,5% vir hoendervleis aan die been wat van die EU ingevoer word. Dié beskerming sal in 2022 verval.

In reaksie op die beskermingsmaatreël het die EU egter ’n dispuut aanhangig gemaak, maar in Maart vanjaar kon ’n paneel vir arbitrasie nie tot stand gebring word nie weens die voorkoms van die Covid-19-pandemie.

“Ons siening was nog altyd om seker te maak dat die maatreël wetlik korrek is en is bereid om die saak te verdedig indien dit sou voortgaan.”

Carim het voorts aangedui dat ander samesprekings wat aan die gang is, handel oor Suid-Afrika se belang by die uitvoer van gaar pluimvee, perde en die elektroniese sertifisering van wyn sodat die produk vinniger oor die grense kan beweeg.