Hy sê boere, werknemers, vroue en kinders word daagliks blootgestel aan wrede moorde en ernstige geweldsmisdade wat plaasaanvalle insluit, terwyl die algemene persepsie bestaan dat die regering hom eerder ophou met politieke ideologieë as om na die welstand van die land se bevolking om te sien en kosvoorsieners as ’n prioriteit te ag.

Wilken sê die situasie is besig om breekpunt te bereik en die regering sal iets daadwerkliks omtrent die misdaadsituasie in gemeenskappe in veral landelike gebiede moet doen.

“Vir te lank is die landbousektor en die gemeenskap gepaai met allerhande verskonings en ontkennings van die slagting wat ook onder swart gemeenskappe plaasvind, en dit blyk of die damwal besig is om mee te gee. Dit ten spyte van vele waarskuwings oor die erns van die situasie vanaf VL asook ander landbou- en burgerregte-organisasies.”

Hy sê opgehoopte frustrasies lei daartoe dat mense reg in eie hande neem en ’n soort vigilante optrede na vore kom soos wat Dinsdag op Senekal gebeur het. Vrystaat Landbou ondersteun alle pogings om die veiligheid van boere, hul werknemers en albei groepe se families te verbeter. Die organisasie sal voortgaan om saam te werk met ander belanghebbendes wat dieselfde oogmerk het.

Volgens Wilken toon statistieke oor plaasaanvalle en -moorde dat daar in die afgelope vier boekjare drie voorvalle in Paul Roux en een in Senekal was. Altesame 227 voorvalle is in dié tydperk in die provinsie aangeteken.

Daar was gedurende 2019-’20 ’n toename van 16,3% in veediefstal in Senekal en 56,4% in Paul Roux teenoor die vorige boekjaar.

Wilken sê VL doen weer ’n ernstige beroep op die regering en die polisie om landelike gebiede as prioriteit te beskou in dienslewering, veral ten opsigte van hoër sigbaarheid, die ondersoek van misdaad – veral veediefstal – en die nodige intelligensiestrukture.