“Ons kan aanhou geraas maak, maar die fokus van landelike veiligheid lê op grondvlak waar boere aktief moet deelneem aan veiligheidstrukture,” sê mnr. Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou. 

Die organisasie se leiers het onlangs in Bloemfontein vergader om oor die veiligheidsituasie in die land en op plase te besin. 

Volgens Wilken het die Swart Maandag-optogte hul doel gedien ten opsigte van bewusmaking oor plaasaanvalle. Nou moet boere hulle daarop toespits om hul veiligheid en paraatheid op te skerp. “Boere moet self betrokke raak by die bestaande veiligheidstrukture en saam met hulle mede-boere en die polisie werk om proaktief op te tree ten opsigte van veiligheid.” 

Debat polariseer gemeenskappe

Vrystaat Landbou spreek sy besorgdheid uit oor die vlaag van misdaad en moorde wat baie hoë vlakke in die samelewing bereik het. “Dit is ook kommerwekkend dat die debat hieroor tans ons gemeenskappe polariseer deur ondeurdagte aannames en onverantwoordelike uitsprake deur individue en organisasies,” lui die verklaring.

Die organisasie glo dat dit belangrik is dat die totale gemeenskap saam behoort te staan op ’n  opbouende manier om ’n beleid van geen verdraagsaamheid teen misdaad te vestig.

Vrystaat Landbou vergader vandeesweek met die bestuur van die SA Polisiediens in die Vrystaat om die landelike beveiligingsplan, asook die organisasie se rol daarin indringend te bespreek. 

Verder moedig die organisasie alle boere en inwoners van dorpe en stede aan om in die feestyd hul eie veiligheid op te skerp.