Dit is afgesien van die emosionele tol wat voortdurende waaksaamheid eis, volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van Vrystaat Landbou.

Skokkende syfers oor die uitwerking van misdaad op die kommersiële landboubedryf in die Vrystaatse Goudveld het op 16 November aan die lig gekom in Vrystaat Landbou se voorlegging in die Hennenmanse landdroshof om borgtog teen te staan vir die verdagtes wat vir die moord op mnre. Pieter en Eddie Hills van die plaas Zwartpan by Hennenman in hegtenis geneem is. 

Die afgelope sewe maande is tien mense op Vrystaatse plase vermoor, teenoor ses in die volle vorige boekjaar. Die helfte van die moorde tot dusver vanjaar – op drie boere en twee werkers – het in die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit, wat die Goudveld insluit, voorgekom. Hierdie syfers is ook in Vrystaat Landbou se voorlegging vervat.

Die voorlegging het verder inligting bevat oor ’n gevallestudie wat 37 kommersiële boere by Virginia, asook sowat 780 werkers en tot 900 van hul afhanklikes betrek het. Luidens die studie het die deelnemers jaarliks van R5,9 miljoen tot R13,9 miljoen regstreeks aan die beskerming van infrastruktuur, die vervanging van beskadigde eiendom en hul betrokkenheid by misdaadvoorkomingsoptrede saam met die polisie bestee.

“As die impak breër bereken word, kan die koste van bogenoemde in net een distrik tot R21 miljoen per jaar beloop,” het Buys gesê.

Luidens Vrystaat Landbou se voorlegging is boere liggaamlik en emosioneel uitgeput omdat hulle 24 uur per dag aan diens moet wees, geen subsidie van die staat ontvang nie en toenemend die polisie in landelike gebiede moet ondersteun.

Luidens die verslag het 83,78% van die deelnemers aan die steekproef droogtetoestande as die grootste risiko uitgesonder, gevolg deur misdaad wat hul volhoubare produksie in die wiele ry (72,97%). Meer as die helfte van die boere in die studie het gesê dat tot nege medeboere hul bedrywighede die afgelope jare weens misdaad in die gebied moes staak.

Die grootste ontevredenheid onder kommersiële boere is onder meer oor swak dienslewering deur die polisie weens ’n tekort aan personeel en voertuie wat sigbare polisiëring strem, ontoepaslike vonnisse en die toestaan van borgtog aan gewoontemisdadigers.