Vanjaar se veldbrande, wat aansienlik meer as vorige jare was en meer as 52 plase en 400 000 ha veld in die Vrystaat verwoes het, het boere in dié provinsie met uiters beperkte weiding gelaat. Boonop was die gras- en lusernvoorraad reeds beperk weens voernood in droogtegeteisterde gebiede is, sê dr. Jack Armour, handelsbestuurder by Vrystaat Landbou.

Volgens hom is 340 000 ha veld einde Julie deur veldbrande verwoes. As die Augustus-veldbrande by Boshof en Dealesville, en die veldbrande van begin September bygereken word, is meer as 400 000 ha veld verwoes.

Hy sê die sterk, droë winde tydens die eerste naweek in September het die ideale toestande vir veldbrande geskep. Ondanks vroegtydige waarskuwings was die weerstoestande sodanig dat nóg boere, nóg brandbestryders die veldbrande kon keer.

“Tussen Winburg, Ventersburg en Virginia het meer as 52 plase se weiding afgebrand. Talle stuks wild het ook in die Willem Pretorius-wildreservaat gevrek. By Dewetsdorp en Wepener het ’n strook van 30 km afgebrand. In sommige gevalle het tot 90% van sekere boere se plase afgebrand. In een geval het 400 skaapooie doodgebrand. Groot brande het ook rondom Bloemfontein voorgekom, veral by Glen en Brandfort."

Volgens Armour kom die einde van die gras- en lusernseisoen ál nader en is plaaslike voerbanke byna uitgeput.

Vrystaat Landbou het daarom ’n inisiatief op die been gebring om voer van buite die Vrystaat aan te koop en aan die geaffekteerde areas te voorsien. Gegewe die koste van hierdie projek het Vrystaat Landbou die steun van die gemeenskap en sakesektor nodig om die aankoop van voer en die vervoer daarvan te finansier.

Besoek Vrystaat Landbou se webwerf by https://vrystaatlandbou.co.za/fire-disaster-fund/ vir nog inligting. Skenkings kan ook direk aan Vrystaat Landbou se rampfonds gemaak word by Absa, rekeningnr. 470940670, takkode 632005 met die verwysing “BRANDE” + u selnommer.