Dit is die eerste provinsiale bevelsentrum wat volg op samesprekings met die SAPD, Agri SA en veiligheidsbelanghebbendes in die landbou om ’n veiligheidskrisis ná verskeie plaasmoorde te ontlont.

Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se landelike veiligheidskomitee, beskou die sentrum as ’n mylpaal wat alle belanghebbendes betrokke sal kry om veiligheid in landelike gebiede te verseker.

Volgens Le Roux word die besonderhede vir die bevelsentrum verfyn, maar met die samewerking van die SAPD, TLU SA, VL en ander belanghebbendes sal gestandaardiseerde en geakkrediteerde opleiding binne die landelike beveiligingstrategie in die Vrystaatse boerderygemeenskappe voorrang geniet.

“Die sentrum sal as provinsiale sambreel dien om alle opleiding, misdaadvoorvalle en probleme ten opsigte van dienslewering deur die strafregstelsel te sentraliseer,” sê hy. Die sentrum sal aan die SAPD se provinsiale prioriteitskomitee oor landelike veiligheid terugvoer gee.

Mnr. Bertus van der Westhuizen, Vrystaatse voorsitter van TLU SA, is baie opgewonde oor die vestiging van so ’n sentrum waarby alle belanghebbendes betrokke sal wees.

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, verwelkom ook die stigting van die bevelsentrum.