Die diefstal van veral groenmielies op plase naby aan dorpe het die afgelope tyd weer in talle distrikte kop uitgesteek.

“Ons het al gevind dat mielies op plase tot 25 km buite die dorp gesteel word,” sê mnr. Ben Greyling, veiligheidsverteenwoordiger van die distrikslandbou-unie Warden. In die meeste gevalle gaan voetgangers met rugsakke in landerye in en pluk groenmielies wat hulle huis toe neem of verkoop. In ander gevalle, veral snags, word sakke vol mielies gesteel.

Greyling sê in sulke gevalle gaan verdagtes met groot sakke in landerye in en pluk die sakke vol. Die sakke word dan by spesifieke laaipunte opgelaai, van waar dit na afsetpunte vervoer word.

“Die mielies word gelukkig nou droog. Die voorvalle het derhalwe begin afneem,” sê Greyling. Enkele verdagtes is die afgelope jaar aangekeer nadat hulle op heter daad betrap en klagte by die polisie aanhangig gemaak is. 

Kapmesse gekry

Mnr. Conray Bothma, veiligheidsverteenwoordiger vir die distrikslandbou-unie Bothaville, sê hulle het al talle verdagtes gevang wat helder oordag in landerye inbeweeg en mielies pluk.

Hy sê nie net beteken dié diefstal skade en ’n verlies aan inkomste vir die boer nie, maar dit hou ook veiligheidsgevare in. Op een plaas, sowat 10 km buite die dorp, is ’n kapmes in die landery gevind.

“In nog voorval het ’n verdagte op ’n boer afgestorm met ’n selfgemaakte wapen toe die boer hom betrap,” vertel Bothma. “Ons moet optree en dié verdagtes laat vervolg anders sal die situasie net vererger en ’n veiligheidsrisiko inhou.”

Greyling en Bothma sê hulle vermoed die situasie word vererger weens toenemende armoede op die platteland.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), sê dié diefstalle het veral sedert verlede maand begin toeneem. Die dorpe waar dit al aangemeld is, is onder meer Allanridge, Bethlehem, Bothaville, Bultfontein, Clocolan, Hobhouse, Ficksburg, Odendaalsrus, Virginia en Warden. 

Private veiligheidswagte

Buys sê volgens ’n opname wat boere van Allanridge en Odendaalsrus onder hulself gedoen het, kan dié situasie vir ’n boer ’n bykomende koste van tot R80 000 per seisoen tot gevolg hê omdat private veiligheidwagte gehuur moet word om landerye op te pas.

“Nie net een wag kan in diens geneem word nie, omdat die landerye dag en nag bewaak moet word. Verder moet die boer in baie gevalle ook die wagte se verblyf en vervoer verskaf, wat bykomende koste te weeg bring.”

Buys sê baie boere het al elektriese heinings rondom hul landerye opgerig, wat groot bykomende uitgawes tot gevolg gehad het.

In die gebiede naby myne sak zama zamas (onwettige myners) op landerye toe. Dit het al gelei daartoe dat veiligheidswagte aangeval en beroof is van onder meer selfone, klere, flitse en radio’s. Buys sê in sommige gebiede ry die polisie en veiligheidstrukture meer patrollies. Boere word gevra om paraat te wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.