Boere het die afgelope paar seisoene hierdie tyd van die jaar met vrees en onsekerheid gewonder wanneer kom daar weer ’n normale seisoen, gesels mnr. Cobus van Coller, ’n boer van Viljoenskroon. “Nou is daar aanduidings dat dit vanjaar kan wees; nie net wat die weer betref nie, maar pryse lyk ook baie beter as ’n jaar gelede.”

Sy optimisme word gedeel deur mnr. Jaco Breytenbach, ’n saaiboer van Fouriesburg in die Oos-Vrystaat. Hy sê daar het in die voorlaaste week van Oktober van 15 mm tot 20 mm in die distrik geval en boere het begin mielies en sojabone plant. Met die laaste reën kon hulle ook die lande wat nog te hard was om te bewerk, begin voorberei. “Ons het weliswaar ’n bietjie later as gewoonlik begin plant, maar die vooruitsigte lyk steeds baie goed.”

Aanplantings het reeds in sekere dele van die Vrystaat begin, maar in die grootste gedeelte van die Vrystaat moet daar nog genoeg reën val vir die aanplantings om optimaal plaas te vind, sê mnr. Luan van der Walt, landbou-ekonoom van Graan SA. “Die plantseisoen het reeds van middel Oktober af begin, maar die optimale planttyd is nog tot middel tot einde November in die oostelike gedeeltes van die Vrystaat, terwyl die optimale planttyd vir die westelike gedeeltes van die Vrystaat van middel November tot middel Desember is. Daar is dus nog tyd.”

Dit lyk ook asof Vrystaatse boere nie vanjaar probleme met insette ondervind nie. “Saad is al redelik afgelaai, chemiese middels is bekombaar en so ook kunsmis. Die bekombaarheid van sekere fosfate wat ingevoer word, kan vorentoe moeiliker raak, maar tot dusver is daar niks haakplekke nie,” sê Van Coller.

Verkoop van insette

Verkope van saad, kunsmis, kalk en selfs werktuie is hoër as ’n jaar gelede, sê mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van die landboumaatskappy Senwes. “Dié verkope beskou ons as ’n leidende aanwyser vir die komende seisoen en die styging is ’n redelik akkurate aanduiding dat boere beoog om meer te plant as ’n jaar gelede.”

Kommersiële boere in die somerreëngebied is voornemens om 5,81% meer mielies as in die vorige produksiejaar te plant en 11,4% meer sojabone, blyk uit die eerste opname van die nuwe seisoen se plantvoornemens wat op 27 Oktober deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekend gemaak is.

Strydom sê boere reageer gewoonlik sterk wanneer die winsgewendheid van ’n graansoort styg, soos nou met witmielies die geval is waar die pryse van R400/t tot R500/t hoër is as vyf maande gelede. Die prys van oliesade teenoor witmielies lyk ook heelwat gunstiger as ’n jaar gelede en indien dit goed reën, sal boere ook heelwat meer sojabone en sonneblom plant.

“Slegte jare gaan ook verby en goeie jare kom weer. Vergeleke met ’n jaar gelede is daar heelwat meer wind in boere se seile. Ons produk is in aanvraag is en ons produkpryse is hoër. Dit lyk of die weer gaan saamspeel. Boere gaan die geleenthede vanjaar benut.”

Wat van produksiekrediet?

Vrystaatse boere met wie Landbouweekblad gepraat het, sê hulle is nie bewus van produsente wat sukkel om produksiekrediet te bekom nie. “Dis dalk te danke aan die goeie pryse vir somergrane en oliesade en omdat finansiers besef hoe die landbou vanjaar die ekonomie van Suid-Afrika gedra het,” sê mnr. Cobus van Coller van Viljoenskroon.

Hy sê die pryse wat reeds vir volgende jaar realiseer, lyk beter as ’n jaar gelede toe daar heelwat meer onsekerheid was. “Ons wegspringposisie is nou heelwat sterker en dit laat boere se begrotings beter lyk.”

Volgens mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, plaas die finansiële probleme van die Land Bank wel ’n demper op die verskaffing van produksiekrediet in sekere streke. “Maar die Land Bank is nie die enigste kredietverskaffer nie. Handelsbanke en landboumaatskappye kan die gaping wat die Land Bank gelaat het, gedeeltelik vul.”

Hy waarsku egter dat uitleners versigtig kyk na hul blootstelling aan die landboumark. “Jy kan aanvaar dat almal nie noodwendig vanjaar maklik finansiering gaan kry nie en indien hulle wel kry, kan die koste hoër wees.”