“Vyf minute later roep my buurman oor die radio dit brand daar by Rus-en-Vrede,” vertel Stroebel, streeksverteenwoordiger van Vrystaat Landbou. ’n Brand het op 13 September van 3 500 ha tot 4 000 ha weiveld in die distrik Rouxville verwoes. Stroebel self het 100 ha verloor en die vuur was in een stadium sterk op pad na sy plaashuis toe.

“Die brand het op die grens tussen mnre. Dawie du Plessis van Makateesfontein en Albertus Lombaard van Rus-en-Vrede uitgebreek. Die oorsaak was waarskynlik Eskom-kabels wat in die sterk wind aan mekaar geraak of gebreek het.”

Stroebel vertel die meeste van die distrik se boere het hulle na die toneel van die brand gehaas ongeag hoe ver hulle daarvandaan was. Die vuur het toe reeds oor ’n taamlike lengte gestrek. “Ek het hom lanklaas so vinnig sien brand. In een stadium staan ek en ’n buurman die vuur so en kyk en ek sê vir hom ek weet regtig nie wat om nou te doen nie, want ons gaan hom nie gekeer kry nie. Al wat ons kon doen, was om voorbrande aan te steek, wat ook maar ’n berekende risiko onder sulke omstandighede is.”

Selfs die grondpad het die brand nie gekeer om na die ander kant te spring nie. Dit was ondanks al die voorsorg, soos brandbane langs die paaie, wat die boere reeds in Junie getref het, voordat die brandseisoen aangebreek het. Maar teen elfuur daardie nag was die brand onder beheer, danksy almal wat op gereedheidsgrondslag was en in groot getalle kom help het. Stroebel sê daar was sover vasgestel kon word geen veeverlies weens die brand nie.

brand
Foto: Jacobus Stroebel

“In gebiede waar daar nog nie reën geval het nie, moet die ouens maar waaksaam wees. Ons gaan nou die tyd in dat die veld maklik aan die brand slaan omdat die gras maar droog is,” sê hy. Drie weke tevore het daar nie ver hiervandaan nie ook ’n brand ontstaan weens vonke vanaf die elektriese kabels. Toe was die krag wat afgegaan het, ook die eerste waarskuwing van die brand.

Soos elke ander distrik in die provinsie het Rouxville se boere ook ’n brandvereniging wat gebeurlikheidsplanne het om brande en brandrisiko’s te bestuur.

Hul brandbestrydingstoerusting is hierdie tyd van die jaar altyd gereed om gebruik te word. Die meeste boere het ’n brandspuit wat hulle agterop die bakkies laai. Die spuit hou van 400 liter tot 1 000 liter water. Die ander toerusting wat gebruik word, is ’n blaas-apparaat wat in die hand gehou word. Dis soortgelyk aan die soort waarmee herfsblare opgeruim word, maar met ’n heelwat kragtiger blaas-aksie waarmee die vuur doodgeblaas word. Kommunikasie geskied via ’n oop kanaal op tweerigtingradio’s sodat die brandbestryding gekoördineerd plaasvind.

Volgens dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van Vrystaat Landbou, is dié organisasie gereeld met Eskom en ander belanghebbendes in gesprek om brandgevare te probeer verminder. “Swak en verouderende infrastruktuur skep deesdae vir ons baie probleme en dit maak boere taamlik moedeloos, veral as hulle probleme aanmeld, maar daar word nie daaraan aandag gegee nie.”

Wat doen Eskom om veldbrande te voorkom?

Elke lyn word jaarliks volgens ’n vasgestelde skedule geïnspekteer, sê me. Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom. “Alle foute en potensiële risiko’s wat tydens die inspeksie opgemerk word, word herstel om brande en gevaarlike situasies te voorkom. As nuwe foute op die lyn ontstaan wat deur klante aangemeld of wat deur ons eie stelsels opgespoor word, word tegnici uitgestuur om die nodige herstelwerk of opgraderings te doen.”

Skade aan Eskom-struktuur kan aangemeld word deur Eskom op een van die volgende maniere te kontak (hou jou rekeningnommer en die toepaslike paalnommers byderhand). 

• Skakel die kontaksentrum by 08600 37566 (ESKOM).

• Gebruik die MyEskom App (Android-slimfone).

• Stuur ’n SMS na 35328.

• Gebruik die CS Online-portaal op die Eskom webblad.