Hy was die eienaar en stigter van die Môreson-pluimveeboerdery en Amanzi- private wildreservaat buite Brandfort. Fourie was ook bekend vir die Christensaamtrekke en -kampe wat hy op Amanzi gehou het.

“Kobie was ’n kind van die Here en sy hele lewe het dit geïllustreer,” sê sy swaer, dr. Jan van Rooyen. “Kobie het met niks begin nie, maar in groot geloof het hy uitgestyg sonder om ooit sy medemenslikheid en nederigheid prys te gee nie.” 

Fourie het op ’n skaapplaas naby Philipstown in die Karoo grootgeword. Hy het in skoolvakansies vir mnr. Louwtjie Louw, ’n saaiboer in die Vrystaat, gaan werk en het later met Louw se dogter, Nadea, getrou. Sy skoonpa was sy mentor wat hom aangemoedig het om sy entrepreneursdrome uit te leef. Met sy aanmoediging het Fourie ’n eierboerdery gekoop en op baie klein skaal begin boer. Danksy sy visie en sakevernuf is dié boerdery tot een van die land se grootstes uitgebrei wat eiers aan onder meer kettingwinkelgroepe verskaf. 

Fourie het nie gehuiwer om nuwe tegnologie in sy eierproduksie in te span nie en dit het ook bygedra tot groter vooruitgang en skaalvoordele. Hy het Môreson-veevoere begin nadat hy ’n leemte in die mark vir die verskaffing van gehalte-veevoer gesien het. Die pluimveeboerdery verskaf ook lêhenne en verkoop dagoudkuikens. 

Sedert 2003 het hy sy sakebedrywighede na die wild- en gasvryheidsbedryf gediversifiseer met die oprigting van Amanzi. Die wildboerdery het mettertyd vir sy uitstaande teelmateriaal bekendheid verwerf. Dié private wildreservaat is ook ’n gewilde lokaal vir troues en onthale.

Fourie was ’n strateeg en ’n visionêre man wat met groot presisie sy planne deurdink en uitgevoer het, sê me. Leonora Oliver, bestuurder van Amanzi.

“Daar is min mense wat so ’n visie gehad het om ’n besigheid te diversifiseer en waarde toe te voeg.” 

Kobie se een seun, Jopie, staan aan die hoof van die wildboerdery, terwyl sy ander seun, Johannes, die pluimveeboerdery bedryf. Hy word ook oorleef deur sy vrou, Nadea, skoondogter, Jeanri, en een kleinkind, Ruan. ’n Private gedenkdiens word op 17 Oktober om 11:00 gehou en sal ook aanlyn uitgesaai word.