Pres. Donald Trump van Amerika is besig om aansienlike beleidsverandering in Amerika deur te voer, onder meer rondom verskeie handelsooreenkomste wat hy wil opskort of heronderhandel. Hy het ook kennis gegee dat hy verhoogde invoertariewe wil instel op Chinese produkte ter waarde van $60 miljard (sowat R700 miljard).

Van die tariewe is gemik op staal- en aluminiumprodukte. China het belowe om terug te baklei. Dié land is die grootste invoerder van Amerikaanse sojabone en China het dadelik begin om na alternatiewe invoerbronne te soek. Dit gaan Amerika dwing om nuwe markte vir sy surplus sojabone te soek as die tweestryd voortduur.

Grafiek 1 toon die Amerikaanse uitvoer van sojabone na China. Trump beoog ook om ’n aantal handelsooreenkomste te hersien, onder meer die Noord-Amerikaanse vryehandelsverdrag (Nafta) wat handel tussen Amerika, Kanada en Mexiko die laaste paar dekades grootliks bevorder het, veral ook landbouprodukte.

Mexiko het ook dadelik begin om sy mielie-invoer uit Amerika na ander bronne (wat moontlik Suid-Afrika kan insluit) te kanaliseer. Terselfdertyd gaan dit beteken dat Amerika sy groot uitvoerbare mieliesurplus na ander markte moet kanaliseer, wat pryse in Chicago laer kan druk en dit vir Suid-Afrikaanse mielieboere nog moeiliker kan maak om uit te voer.

Vleismarkte ontwrig

Die handelsoorlog tref wyd. China het met die skrywe hiervan beoog om ’n bykomende 25%-invoertarief op Amerikaanse varkvleisprodukte te plaas (waarvan China ’n groot mark is). Dit gaan ook vleishandel ontwrig. China wil ook verhoogde tariewe op wyn en droëvrugte en neute uit Amerika instel.

Die verwagting is dat die Chinese invoer van varkvleis vanaf Amerika met tot 30% kan daal, terwyl China binnelandse produksie aanspoor. Dit gaan weer wyd uitkring na ander lande en vleismarkte. Die uitvoer van Amerikaanse varkvleis na China is jaarliks sowat sowat $1,2 miljard (sowat R14 miljard) werd.

Die Amerikaanse uitvoerders van varkvleis sal nou nuwe markte moet soek. Moenie verbaas wees as Afrika en Suid-Afrika in die spervuur kom nie. Onthou, die ontwrigtings gebeur nie geleidelik oor jare nie, maar kan binne weke markte totaal ontwrig.

Dit alles kan die begin van ’n ontwrigtende tydperk in wêreldhandel wees ná die afgelope sowat 20 jaar tot 30 jaar se werk wat in die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) gedoen is om wêreldhandel te bevorder deur tariewe te verlaag en marktoegang te vergroot. Dit was ook die regstreekse oorsaak van Suid-Afrika se afskaffing van bemarkingsrade en invoerpermitte.

Die bewyse wêreldwyd is onteenseglik: Vryer handel bevorder ekonomiese groei. Die Amerikaanse georganiseerde landbou is bekommerd, want die resultaat kan ontwrigtend vir sy landbou-uitvoer wees. Dit het boonop ’n wye uitkringeffek, wat ook Suid-Afrikaanse se landboumarkte gaan beïnvloed.

sanksies teen rusland

’n Voorbeeld is die handelsanksies wat Amerika en die Europese Unie (EU) teen Rusland ingestel het nadat Rusland ’n deel van die Oekraïne binnegeval het. Dit het regstreeks daartoe aanleiding gegee dat Amerika en die EU nuwe markte vir hul surplus hoenderporsies en -melkprodukte moes vind. Afrikamarkte, en spesifiek die Suid-Afrikaanse mark, het die teiken daarvan geword.

Dit het die plaaslike bedrywe geknou omdat plaaslike boere skielik moes meeding met nuwe invoer (met laer pryse). Daar is ook sprake dat die biobrandstofbeleid in Amerika verander gaan word om fossielbrandstowwe te bevorder (een van Trump se groot ondersteuningsgroepe).

Daarteenoor staan daar ’n sterk groep wat redeneer dat die verpligte inmeng van etanol tot 15% verhoog moet word, want dit sal die vraag na mielies binnelands verhoog, pryse steun en die plattelandse ekonomie laat groei (die dollarprys van mielies het die afgelope drie jaar skerp gedaal). Tans word sowat 40% van die Amerikaanse mielieoes verwerk in (meestal) etanol met minder soja in biodiesel.

Grafiek 2 toon die aanwending van Amerikaanse mielies vir nywerheidsgebruik, wat hoofsaaklik etanol is. Enige veranderinge in die beleid wat die inmeng daarvan gaan benadeel, gaan regstreeks oorspoel in surplus mielies en oliesade, wat teen laer pryse op die wêreldmark geplaas moet word. Dit kan ook ’n impak op die Suid-Afrikaanse landbou hê.

Voeg ook daarby die sogenoemde Brexit, waarin Brittanje besig is om te onderhandel om uit die EU te tree. Dit gaan implikasies inhou vir byvoorbeeld Suid-Afrikaanse vrugte- en wynuitvoer, wat tans ingevolge die EU-handelsooreenkoms met heelwat tariefvoordele na Brittanje gaan. Die proses verloop tans stamperig en Suid-Afrika moet byvoorbeeld ’n nuwe ooreenkoms met Brittanje sluit.

Nuwe Afrika-ooreenkoms

Suid-Afrika is ook ’n ondertekenaar van verskeie handelsooreenkomste en die jongste is ’n beoogde vryehandelsooreenkoms binne die Afrika-unie (AU) wat vandeesmaand deur pres. Cyril Ramaphosa namens Suid-Afrika onderteken het. Die doel is om binne die AU ’n vryehandelsooreenkoms te sluit.

Dit is reeds deur die meeste van die 55 lande onderteken. Natuurlik moet dit eers deur die verskillende lande se parlementêre prosesse gaan, maar baie werk is reeds daaroor gedoen en die doel is basies dat dit die huidige klomp kleiner streekooreenkomste moet vervang.

Die ooreenkoms tree in werking as minstens 22 lande se regerings dit aanvaar. Met die Afrika-vryhandelooreenkoms het die ondertekenaars hulle verbind om invoertariewe op 90% van die goedere uit te faseer en later op die res om sodoende streekhandel te bevorder en oorgrensprosesse makliker te maak.

Die proses is tydsaam, maar besig om te gebeur. Die proses volg kort op die hakke van die huidige drie streekhandelsooreenkomste in Afrika suid van die Sahara waarin ooreengekom is om een handelsblok te vorm. Die ooreenkoms van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is deel daarvan.

Die Suid-Afrikaanse landbou voer reeds aansienlike hoeveelhede produkte na sy buurlande uit en die veranderinge sal waarskynlik beteken dat hy meer klem op dié streek sal moet lê. Daar is natuurlik ook heelwat studies gedoen wat daarop dui dat dit goedkoper sal wees om hoenders in Zambië te lewer en die verwerkte vleis na Suid-Afrika uit te voer. Voerkoste, arbeid, elektrisiteit en graan- en sojaproduksiekoste is daar heelwat goedkoper. Terloops, Zambië het reeds surplus witmielies en sojabone, wat by tye hul weg na Suid-Afrikaanse markte vind.

Ten slotte

Groot veranderinge is besig om in te tree in die benadering tot vrye handel omdat die Amerikaanse beleid besig is om te verander na ’n beskermende beleid teenoor sekere binnelandse bedrywe. Dit kan die ekonomiese groei van wêreldhandel erg ontwrig. Die Amerikaanse aandelebeurs het byvoorbeeld ’n groot daling aangeteken ná Trump se aankondiging van die tariewe teen China.

Dit sal Suid-Afrika loon om die ontwikkelinge in Amerika noukeurig te volg, want dit kan wye nadelige (of dalk voordelige) gevolge vir die land se bedrywe en pryse vir die boere inhou.