Die Suid-Afrikaanse Jag- en Wildbewaringsvereniging sê in ’n verklaring die verspreiding van die ‘Draft Firearms Control Amendment Bill’ is waarskynlik ’n doelbewuste poging van die polisie om die aandag af te lei van ander dringende aangeleenthede wat hy nog nie afgehandel het nie.

Die organisasie meen die dokument is waarskynlik deur lede van die polisie se regsafdeling geproduseer met die doel om dit aan die Minister van Polisie voor te lê vir oorweging as ’n moontlike wysiging van die huidige Vuurwapenbeheerwet (Wet 60 van 2000).

Die konsepwet doen onder meer weg met die besit van ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes, en vereis dat enigiemand wat aansoek doen om ’n vuurwapenlisensie, ook ’n verslag van ’n mediese amptenaar indien wat bevestig die aansoeker is fisiek in staat om ’n vuurwapen te hanteer, verstandelik stabiel en nie afhanklik van dwelms nie. 

‘Dringende aangeleenthede’

“Die bekendmaking van hierdie dokument op hierdie stadium is ’n kreatiewe en slim manier om paniek te saai ten einde ander dringende aangeleenthede weg te steek, naamlik:

·     Sowat 750 000 ou groen vuurwapenlisensies is steeds geldig sedert 2009;

·     Min of meer 470 000 wit lisensies het verval en is nie betyds hernu nie; en

·     Die SAPD-regspan het aansoek gedoen om toestemming om appèl aan te teken teen die tussentydse interdik wat Gosa teen die insameling van vuurwapens met vervalde ‘wit’ lisensies gekry het, maar sedertdien maande lank niks daaroor gedoen nie.

“Op Woensdag 18 Oktober het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, mnr. Francois Beukman, ’n verklaring uitgereik wat bevestig dié dokument het geen regstatus nie, en was nie op die agenda vir bespreking deur die portefeuljekomitee nie,” lui die verklaring.

Beskerm jou regte

SA Jagters sê verder die wysiging van ’n wet moet ’n spesifieke proses deur verskeie kanale en besprekings volg voor dit aan die President voorgelê word vir bekragtiging.

“SA Jagters sal onregverdige en onredelike wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet teenstaan en sal regstappe doen en die Hooggeregshof vir verligting nader, indien nodig. Die vereniging sal voortgaan om konstruktiewe stappe te neem om seker te maak dat ons die reg behou om onsself, ons gesinne en ons bates te beskerm.

“Ons sal rasioneel, realisties en redelik bly. Ons sal nie geïntimideer of ontstel word, of paniek saai oor ’n dokument wat hoegenaamd geen regstatus het nie,” sê die organisasie se uitvoerende hoof, mnr. Fred Camphor.

“Niks sal oornag gebeur nie. Ons raai vuurwapeneienaars wat nog nie aan ’n geakkrediteerde en geloofwaardige organisasie behoort nie, om nou by een aan te sluit wat hul belange kan beskerm,” lui die verklaring.

Me. Dianne Kohler Barnard, ’n DA-parlementslid, het Woensdag getwiet die dokument is eg, maar is nog nie aan die Kabinet voorgelê nie. Sy het bygevoeg niks sal hiermee gebeur tot ná die verkiesing nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.