Parlementslede het in die nasionale vergadering vrae aan ministers in die veiligheidsgroepering gestel. Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, wou by Cele weet of hy ’n verdere amnestietydperk sal oorweeg.

Cele het gesê die evaluering van die uitkoms van die afgelope amnestietydperk is nog nie afgehandel nie en dat ’n toekomstige amnestietydperk oorweeg sal word sodra die evaluering voltooi is.

Groenewald het ’n beroep gedoen dat nog ’n amnestietydperk oorweeg moet word. Hy het gesê met die jongste amnestietydperk tot einde Januarie is probleme ondervind soos dat die beamptes wat gelas is met die aansoeke, nie by die polisiekantore was wanneer mense daarheen gegaan het nie.

Cele het gesê altesaam 45 950 vuurwapens is in die 2019-’20- en 49 339 vuurwapens in die 2020-’21-amnestietydperk ingedien. Meer as 500 000 patrone is ingedien.

Hy het gesê die tweede amnestietydperk is ontwrig en dat baie Suid-Afrikaners versoek het dat daar nog ’n amnestietydperk moet wees. Hy meen dit sal billik wees om ’n versoek vir nog ’n amnestietydperk by die parlement in te dien.

Me. Princess Faku, ANC-LP, wou weet wanneer die evaluering voltooi sal wees, wat die kriteria daarvoor is, en onder watter omstandighede sal daar nie nog ’n amnestietydperk oorweeg word nie.

Cele het gesê die evaluering kan binne ’n week afgehandel wees. As deel van die kriteria word gekyk hoeveel mense om nog ’n amnestietydperk gevra het.

Hy het gesê in die tweede amnestietydperk, toe die land in ’n vlak 3-inperking was, het meer as 27 000 polisielede Covid-19 opgedoen en hulle kon dus nie diens doen nie. Altesaam 580 beamptes het in die tydperk gesterf.