Shandu het tydens ’n onderhoud op dié aktualiteitsprogram verduidelik waarom die polisie se wysigingswetsontwerp van 2021 vuurwapenbesit vir selfverdediging uit die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) weglaat.

Shandu het gesê wapens wat vanaf wettige wapeneienaars gesteel word, word die meeste tydens geweldsmisdaad gebruik. Sy redeneer dat as daar minder wettige vuurwapens in besit van wetsgehoorsame wapeneienaars is, sal misdadigers nie toegang tot wapens kry nie. Daarom meen sy dat mense wat wapens vir selfverdediging wil hê, nie wapens mag besit nie (minuut 2:46 tot 3:30 van die insetsel).

Wilken sê as Shandu se redenasie verder geneem sou word, sal dit ook beteken dat ook ander bates soos voertuie, wat ook in rooftogte gebruik word, uit die hande van voertuigeienaars geneem moet word.

“Waarom dan nie ook die sekuriteitsmaatskappye, die polisie en die weermag volkome ontwapen nie? Sal dit alle geweldsmisdaad stopsit? Waarom word ander redes as selfverdediging dan vir wapenlisensiëring aanvaar? Beteken dit slegs wapens wat vir selfverdediging gelisensieer is, word tydens geweldsmisdaad gebruik?”

Hy meen Shandu se uitlatings is kommerwekkend omdat dit op ’n dieper probleem dui. “Die onderhoud wek by die kyker die indruk dat die polisie die skuld vir die hoë misdaadsyfer op die slagoffers van misdaad plaas en nie op hul eie gebreke nie.

“Indien die polisiëring in Suid-Afrika op peil was, sou daar geen behoefte by landsburgers gewees het om wapens vir selfverdediging te besit nie. Misdadigers sou nie toegang tot die huis van die eienaar van ’n wettige vuurwapen kry nie en dan sou minder geweldsmisdaad gepleeg kon word.”

Hy sê die regering probeer om by wyse van die wysigingswetsontwerp sy nalatigheid in die behoorlike hantering van aansoeke vir vuurwapenlisensies te verbloem. “Die probleem blyk eerder by die toepassing as die wetgewing te wees. As die bedoeling is om ’n ander uitkoms te soek deur wetgewing te verander, is ’n ander uitkoms in die huidige omstandighede vergesog. Daar kan bloot behoorlike dienslewering aan die publiek verskaf word.”

Wilken meen die insetsel op Carte Blanche is ’n aanduiding van die antivuurwapen-agenda wat deur die regering en sekere instellings aangedryf word.

Enigiemand wat kapsie teen die wysigingswetsontwerp wil maak, kan https://vrystaatlandbou.co.za/protect-your-right-to-self-defence/ besoek om kommentaar te lewer. Die kommentaar sal deur VL by die sekretariaat van die polisie ingedien word.