Die dae dat boere net ná 60 aftree en op die strandhuis se stoep gaan sit, is op vele plase lankal verby. Deesdae moet hulle aanhou boer, of geniet hulle dit só om te boer dat hulle aanhou solank hul krag en gesondheid hou.

Mnr. Giepie Basson van die plaas Onder-Klipgat by Moorreesburg het in 2020 vir die vyftigste keer koring gestroop, en sê dis nog altyd lekker.

Die Bassons het in November hul vyftigste koringoestyd gevier. FOTO: AMELIA GENIS

In die 50 jaar het stropertegnologie en die operateur se gerief baie verander. Basson moes onder meer selfone en satelliettegnologie bemeester, maar reken die koms van kajuite met lugreëling was die beste verbetering by stropers. “Jy het mos die foto’tjie van 1970 gesien. Jy sit onder ’n seildakkie en die graantenk is agter jou. As jy windop stroop, is alles reg, dan waai alles by jou verby. Maar as jy windaf stroop, dan warrel alles agter die tenkie in op jou gesig. Dit was hel.”

Basson het nie ver van die huidige familieplaas nie op ’n ander plaas grootgeword. Ná sy diensplig en ’n landboudiploma aan die Grootfontein-landboukollege het hy vir ’n paar jaar as veldbeampte vir BSB in die destydse Noord-Natal gewerk. Hy het Onder-Klipgat in 1970 gekoop, gesaai en aan die einde van daardie jaar vir die eerste keer met ’n splinternuwe stroper gestroop. Ná ’n droë 1969 was 1970 ’n goeie jaar.

Swak oeste was gelukkig die afgelope 50 jaar in die minderheid. Basson, wat deesdae saam met sy seun Deon boer, sê hulle kon elke jaar stroop, maar 1978, 1997, 2003 en 2004 was swak jare. Soos ander Swartlandboere het hulle van 2015 af die druk van droogte gevoel. “In 2016 het ons goeie opbrengste behaal, maar die prys was swak. Die jaar kon vir homself sorg, maar kon nie 2015 se wonde lek nie.”

Basson sê 2017, toe hulle net 740 kg/ha geoes het, was ’n “harde hou”. Toe kom 2018 met ’n gemiddelde oes en 2019 was weer ’n swak jaar. In 2018 het sterk wind die koring só uitgewaai dat hulle uit die stroper kon sien die are is kaal geslaan. Die koring het verlede jaar maklik gedors, sê die Bassons, “seker omdat dit rustig ryp geword het”. Dit het beteken dat hulle vroeg in die dag kon begin stroop en laat kon ophou.

Koringkultivars wat maklik dors, is deesdae algemeen, maar Flameks, een van die kultivars wat hulle destyds gehad het, het nogal moeilik gedors, sê Basson. Dit was ook die jare voor opbrengsmonitors en tonne per hektaar. Opbrengs is nog gemeet in sakke koring geoes vir sakke gesaai. Toe is 22-26 sakke koring vir ’n sak saad as ’n goeie oes beskou.

KORINGHANTERING OOK MAKLIKER

Basson se eerste stroper was ’n goudgeel Clayson, nuut gekoop. Toe daardie stroper in 1970 op die werf aankom, het sy vrou, Marita, vir hom gevra: “R10 000 vir ’n stroper, waar gaan ons die geld vandaan kry?” Deesdae kos ’n stroper naastenby R6 miljoen en ’n mens kan nie eens meer ’n stroperband vir R10 000 koop nie, sê Basson.

Vyftig jaar gelede het die koringstroper só gelyk: Mnr. Giepie Basson op ’n Clayson-stroper wat hy in 1970 nuut gekoop het vir R10 000. FOTO: VERSKAF

Hoewel die geel Clayson geskik was om koring in los maat te lewer, het die destydse koöperasie op Moorreesburg net koring in sakke ingeneem. Basson sê hulle was daarom verplig om die koring in 90 kg-sakke “af te maak”. Daarna het hy, sy broer en twee werkers die koring op ’n wa gelaai en met ’n trekker silo toe vervoer. Hy onthou hoe moeg dié rugbreekwerk hulle gemaak het, maar ook hoe die werkers hul humorsin behou het. “Teen laatmiddag is jy só moeg, jy skuif net die sakke so. Toe sê een van die werkers: ‘Sit hom voete aan, sit hom voete aan.’ ”

Toe hulle begin uitbrei en buurplase bykoop, het die Bassons ’n silo opgerig om al hul koring daarin te hou en deur ’n vervoermaatskappy dorp toe te laat vervoer. Basson het in die vroeë 1990’s met behulp van die vorige regering se grondomskakelingskema medics begin plant. Deesdae wissel hulle nog medics met koring af, maar plant ook op sommige medicslande dekgewasse. Dit is gewoonlik ’n mengsel van saia- en gewone hawer, Japannese radys, rog, soet- en bitterlupiene en fababone. Die dekgewasse is nuttige skaapweiding. Dit word doodgespuit of platgerol voordat dit saad vorm. Die materiaal word op die lande gelos om die grond in die warm somer te beskerm.

Die Bassons het in 2000 met minimumbewerking begin en die gewone Wes-Kaapse stryd gevoer teen planters wat nie deur die stoppels kon werk nie. Ná verskillende planters en ombouings gebruik hulle deesdae tandplanters van Equalizer.

WATWOU AFTREE!

Basson is 77, maar hy dink nie aan aftree nie. “Ons is nie stoepsitters nie,” sê Marita. “Jy praat van aftree, maar die jonger geslag moet oorvat. Ek help nou maar. Wat ek gereeld hoor, is: ‘Kan Pa vir ons dit of dat doen’?” sê Basson skertsend.

Die Bassons ervaar strooptyd as ’n goeie tyd, maar hulle eet nie meer so groot soos in die verlede nie. Marita sê sy het altyd borde kos en ’n bakkie poeding land toe gevat, “maar as hulle vol geëet is, raak hulle lui. Toe sê hulle ek moet liewer piekniekkos bring wat hulle in die ry kan eet, want hulle wil nie meer stilhou om te eet nie.”

Basson kan kwalik aftree noudat hy gedurende 2020 se oes self die regte kampe op die opbrengsmonitor kon aandui, en homself dus gereed verklaar het vir 2021 se oes.

Mnr. Giepie Basson (regs) en sy seun Deon boer deesdae saam. FOTO: AMELIA GENIS