Drie koue fronte gaan Suid-Afrika dalk nog in dié tyd tref, wat met sterk winde gepaard sal gaan. Voeg daarby die kurkdroë veld wat die gevolg van die koue winter met sy baie ryp is, en die kans is groot dat veldbrande kan ontstaan. Saam met die koue fronte se winde kan dit maklik lei tot wegholbrande wat groot lappe kosbare veld kan verorber.

“Die tradisionele Augustus-winde loop hand aan hand met koue fronte, wat dan bergwinde vanuit die noordweste veroorsaak wat tot warmer, droë toestande lei. Dit verhoog die gevaar van brande nóg meer. En onthou, die veld is nou morsdood en brand baie maklik,” sê hy.

Boere moet selfs versigtig wees wanneer hulle voorbrande maak, want dit het al baie kere handuit geruk. Van den Berg verduidelik dat wanneer iets brand, styg warm lug en nóg lug stroom dan van buite af in om die lugleegte te vul. Wanneer ’n voorbrand dus gemaak word, skep dit ’n gevaarlike toestand van lug wat na die brand toe stroom en dus ’n wind veroorsaak. Dit kan ’n veldbrand veroorsaak.

Hy sê die winter is nog nie verby nie en dit kan nog vir die volgende vier tot ses weke ryp. Die dae raak nou wel warmer, maar die nagte is nog koud. Dus is dit nog nie tyd om die winterklere te bêre nie.