Die saak, wat Agri SA finansieel ondersteun het, spruit uit grondeise op plase in die distrik Melmoth in KwaZulu-Natal. Die staat en die grondeienaars se waardeerders het aanvanklik ooreengekom op ’n vergoedingsbedrag van meer as R760 miljoen, wat hulle gereken het regverdige en billike vergoeding is. Die WG het egter ’n baie laer waardasie van R420 miljoen gemaak nadat hy sy formule ingevolge die regulasies van die Wet op Eiendomswaardering (Wet 17 van 2014) gebruik het.

Hierdie formule neem onder meer die gebruikswaarde van die eiendom saam met die markwaarde in ag en trek enige voordele van verkryging, asook latere verbeterings met staatshulp van die vergoedingsbedrag af.

Twee dae voordat die hof in Desember oor die kwessie sou beslis, het die minister per kennisgewing laat weet dat sy gebonde is aan die WG se aanbod. Die hof het egter beslis dat die minister ingevolge die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994) by magte is om te beslis oor vergoeding. Die minister is nie gebonde aan die laer aanbod nie.

Omdat die minister en haar regspan nie voor die kennisgewing enige aanduiding gegee het dat hulle hul op die WG se waardasie wil beroep nie, het die hof ’n strafkostebevel teen hulle uitgereik vir die drie dae wat die verhoor sou duur. Die staat se regspan mag ook vir twee van die drie dae nie koste eis nie.

In ’n soortgelyke beslissing in Februarie het die Grondeisehof ook bevind dat ’n hofbeslissing nie ondergeskik is aan die WG se waardasie nie en dat die minister nie daaraan gebonde is nie.

In dié saak, wat voortspruit uit ’n eis van ’n gemeenskap by Moloto, was daar ’n vroeëre hofbevel dat die hof oor vergoeding moet beslis. Die staat het aangevoer dat die minister onderhewig is aan die WG se waardasie, maar die hof het bevind dat die minister se jurisdiksie nie ondergeskik is aan die bepalings van die Wet op Eiendomswaardering nie. Vorige bevele van die hof bly bindend op alle partye en die minister moet die koste van die geding dra.

Me. Annelize Crosby, hoof van beleid en grondsake by Agri SA, sê die toepassing van die WG se formule veroorsaak groot probleme en Agri SA wil sien dat die howe uitsluitsel daaroor gee. Bestaande sake word gebruik om duidelikheid te kry oor die hof se siening oor die regulasies en die bepaling van regverdige en billike vergoeding.

Gavor het twee weke gelede bedank. Amptelik sê die departement hy het besluit om op 59-jarige ouderdom af te tree, maar Netwerk24 berig hy het sy pos neergelê weens die deurmekaarspul by die department en inmenging by sy werk, terwyl sy kantoor onafhanklik moet wees. Gavor kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.