Temperature van tot 36 °C word volgende week vir byvoorbeeld Upington, Jansenville en Worcester voorspel, met temperature van rondom 30 °C wat vandeesweek oor groot dele van die land verwag word. Minimum of nagtemperature begin egter wel daal, wat ’n aanduiding is van minder vog in die lug, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Na verwagting sal die begin van winter vanjaar dieselfde patroon as verlede jaar volg. April en die eerste deel van Mei was matig tot warm voordat temperature in die laaste week van Mei skerp begin daal het. Van den Berg sê die eerste ligte ryp kan teen einde April in die sentrale tot suidelike binneland voorkom, terwyl die gebiede swaar ryp in die tweede week van Mei kan verwag.

“Verder noord word dit ongeveer twee weke later verwag, met baie strawwe ryp wat einde Mei oor groot gedeeltes verwag word,” aldus Van den Berg. “As gevolg van soortgelyke toestande as in 2020 in die suidwestelike Indiese Oseaan en Atlantiese Oseaan suid van Kaapstad is die kans weer goed dat ’n intense winter kan voorkom.”

Kans op reën beperk

Die kans op reën oor Suid-Afrika in die komende week is skraal. Reën word voorspel in die laaste deel van April oor die suidoostelike binneland, wat dele van die Noord-Kaap soos De Aar, Victoria-Wes, Britstown, Prieska en Hanover, en aangrensende dele van die Oos-Kaap soos Middelburg, Aberdeen, Graaff-Reinet, Willowmore, Steytlerville, Jansenville, Gqeberha en Oos-Londen insluit. Dit lyk na neerslae van minder as 30 mm, wat effens kan help om die uitwerking van die droogte te verlig in gebiede waar reeds reën voorgekom het.

Van den Berg sê dit gaan egter nie veel water verskaf aan damme in die besproeiingsgebiede van die Langkloof, Gamtoos- en Sondagsrivier nie. Die gebrek aan water kan die vrugtebedryf in die Langkloof, en die sitrusgebiede van die Gamtoos- en Sondagsriviervallei ’n groot knou toedien.

Van den Berg sê boere in die Langkloof met wie hy onlangs gepraat het, probeer nou van ondergrondse water gebruik maak, met boorgate wat tot so diep soos 250 m gesink word.

Baie min of geen reën word in die komende weke in die suidwestelike binneland van die Noord-Kaap verwag en die kans op reën in dié gebied raak skraler. Om die droogte te breek wat steeds gebiede in dié omgewing in sy greep het, sal meer as 100 mm nodig wees. Gegrond op die reënvalgeskiedenis van dié streek is die kans op neerslae van 50 mm van Mei tot Augustus uiters skraal. Dus lyk dit asof die droogte in hierdie gebiede gaan voortduur vir nog ’n winter.

La Niña

Van den Berg sê ten spyte van vroeëre verwagtings was die somer se La Niña-stelsel nie sterk genoeg om vog ver wes oor die land af te bring nie. Die reën wat voorgekom het, het oos van ’n denkbeeldige lyn wat strek vanaf ongeveer Pofadder in die noordweste oor Brandvlei, Middelburg, Cradock en Oos-Londen in die Oos-Kaap geval. Suid en wes van hierdie lyn het slegs kolle of strepe redelik goeie reën gehad, terwyl daar oos en noord van hierdie lyn oor die algemeen bogemiddelde reënval voorgekom het van die begin van die somer af.

Tydens die baie sterk La Niña-seisoene van 1974, 1976, 1988, 2000, 2010 en 2011 het onder meer Williston bogemiddelde reënval gehad, maar die stelsel was dié seisoen nie sterk genoeg daarvoor nie. “ ’n Neiging het wel al voorgekom dat daar nog redelik goeie neerslae voorgekom het nadat die La Niña-gebeurtenis geëindig het. In 2012 het die distrik Williston toe meer as 400 mm gemeet.”

Die gedeeltes suid en wes van die denkbeeldige lyn, wat insluit die suidelike en suidoostelike dele van die Noord- en Oos-Kaap, is in die gebied wat tussen die tipiese winterreënval- en somerreëngebiede geleë is.

Die Australiese buro vir meteorologie sê luidens ’n verklaring die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso) is tans onaktief, met geen teken van El Niño- of La Niña-stelsels wat tans ontwikkel nie. Volgens klimaatmodelle gaan die tropiese Stille Oseaan tot ten minste September neutrale Enso-vlakke handhaaf. Die neutrale vlakke tydens die herfs is tipies van ’n lewensiklus van ’n Enso-gebeurtenis.