Die vorige vuurwapenamnestie het op 31 Mei 2020 verstryk. Die parlement het weens die impak van die Covid-19-inperking nog ’n amnestietydperk goedgekeur wat van 1 Augustus 2020 tot 31 Januarie vanjaar geldig is.

Dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter, sê die organisasie meen die sperdatum moet uitgestel word weens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie en die ontwrigtende impak daarvan op die polisie se vermoë om te funksioneer.

“Die Covid-19-regulasies, vrees vir verspreiding en polisiebeamptes wat weens Covid-19 afwesig is, ry die amnestietydperk vir vuurwapenlisensies in die wiele. Polisiekantore op die platteland het dikwels ’n tekort aan die voorgeskrewe vorms om aansoek te doen om amnestie.

“Beurtkrag en deurlopende instandhouding van stelsels bring ook mee dat rekenaarstelsels gereeld vanlyn is, terwyl die afwesigheid van die nodige beamptes die amnestieproses verder ontwrig.”

De Jager sê Saai is bekommerd oor die polisie se vermoë om die amnestie-aansoeke in ’n billike tydperk te verwerk en die korrekte vuurwapens ongeskonde aan die regte eienaars terug te besorg. Sommige Saai-lede moes tot sewe keer na polisiekantore terugkeer en etlike ure wag dat hul aansoeke verwerk word. “Covid-19 kry meestal die skuld daarvoor en dis juis daarom dat die tydperk vir aansoeke verleng behoort te word.”

Hy sê een van die grootste struikelblokke is die vereiste dat vuurwapens vir die duur van die amnestieproses by die polisie ingehandig moet word.

“Met die hoë landelike misdaadsyfer en die toename in plaasaanvalle, veediefstal en die stroping van oeste en wild maak dit nie sin om boere ongewapen op hul plase vir lisensies te laat wag nie. Saai se voorstel dat boere hul wapens moet hou en slegs laat inneem wanneer die SAPD vir ballistiese toetsing gereed is, het tot dusver op dowe ore geval.

“Vanweë die waarde van vuurwapens – veral duur jaggewere – raai Saai vuurwapeneienaars aan om foto’s van hul vuurwapens te neem as bewys van die toestand waarin die vuurwapens tydens inhandiging was.”