Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, het vroeër vandeesweek gesê hulle is skriftelik van dié besluit in kennis gestel. Dié organisasie het in 2009 ’n aansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ingedien waarna ’n tussentydse hofbevel uitgereik is om dié lisensies te beskerm.

Kamfer sê die kennisgewing dui ook aan dat houers van groen lisensies die afgelope dekade drie amnestieperiodes kon gebruik om die nuwe wit vuurwapenlisensiekaarte ingevolge die nuwe Wet op Beheer van Vuurwapens (60 van 2000) te bekom.

Die nuutste amnestieperiode geld tot 31 Januarie 2021.

“As die tussentydse hofbevel tersyde gestel word, sal die houer van ’n groen lisensie geag word om in onwettige besit van ’n vuurwapen te wees, aangesien die bevel nie meer daar sal wees om die eienaar te beskerm nie. Die eienaar sal dus nie ’n geldige rede hê om in besit van die wapen te wees nie,” sê Kamfer.

“SA Jagters sal waarskynlik met die staatsprokureur vergader om die aangeleentheid te bespreek en om tot ’n moontlike vergelyk te kom. Dit sal egter raadsaam wees vir houers van groen lisensies om hul opsies te oorweeg, soos om gebruik te maak van die huidige amnestieperiode.”

Ingevolge die wet kan iemand wat aan die onwettige besit van ’n vuurwapen skuldig bevind word, tot 15 jaar tronkstraf kry.