Dr. Andries Kruger, hoofnavorser vir klimaatdata by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê die warmer temperature kan toegeskryf word aan die feit dat die somerseisoen laat aangebreek het.

Die gemiddelde temperature wat die weerdiens tussen 1 en 19 Mei 2019 op Upington gemeet het, is die hoogste sedert die weerdiens se outomatiese weerstasies vanaf 1992 gebruik word. “Dit is die warmste Mei wat dié dorp nog beleef het, met ’n gemiddelde maksimum temperatuur van 30,1 °C wat vir die 19 dae aangeteken is, terwyl die gemiddelde minimum temperatuur 13 °C was.”

Nampo

Kurger sê hoë temperature is ook in die distrik Bothaville aangeteken, hoewel dit nie die warmste Meimaand in dié omgewing is nie. Die Balkfonteinweerstasie in dié omgewing se weerrekords strek van 1949 af. Van 1 tot 19 Mei 2019 was die gemiddelde maksimum temperatuur op die dorp 26 °C en die gemiddelde minimum temperatuur was 6,4 °C. Die gemiddelde maksimum en minimum temperature vir dié 19 dae van 1949 tot 2018 is 23,2 °C en 6,4 °C.

Tydens die week van die 53ste Nampo-oesdag wat van 14 tot 17 Mei 2019 op Nampopark buite Bothaville plaasgevind het, was die gemiddelde maksimum en minimum temperature onderskeidelik 26,4 °C en 4,8 °C. “Dis die maksimum temperature wat eintlik verlede week die verskil gemaak het. Dit is wel natuurlik nie meer deesdae ongewoon nie,” sê Kruger. 

Bothaville
Bothaville se gemiddelde temperature van 1 Mei tot 19 Mei 2019 vergelyk met temperature gedurende dieselfde periode van 1949 tot 2018. Grafiek: Suid-Afrikaanse Weerdiens
Bothaville,
Bothaville se gemiddelde temperature van 13 Mei tot 19 Mei (Nampo) 2019 vergelyk met temperature gedurende dieselfde periode van 1949 tot 2018. Grafiek: Suid-Afrikaanse Weerdiens

Ryp

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê hoewel dit nie ongewoon is dat Mei matige temperature en windstildae het nie, was Mei 2019 tot 20 Mei besonder warm. “Nog geen of baie min ryp het voorgekom nie. Gewoonlik is daar een of twee nagte in April dat ryp voorkom, maar veral in die eerste twee weke van Mei veroorsaak koue fronte wat koue lug oor die land laat inkom ryp.”

Volgens Van den Berg het die baie reën in die laaste week van April ook gesorg dat ryp nie sommer die afgelope paar weke sou voorkom nie, “want die lug bly vogtig wat ’n tipe van buffer na die atmosfeer is en hitte-uitstraling vanaf die aarde beperk.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.