Weerkenners in Australië het vroeër vandeesweek aan BBC gesê die sneeu is ’n “ongewone verskynsel” aangesien geen noemenswaardige sneeuval sedert 2015 in die gebied voorgekom het nie. Mnr. Lachlan Stone, weerkundige van die Australiese buro vir meteorologie, sê sneeu in dié deel van die land is ’n buitengewone verskynsel, veral omdat die staat bekend is vir ’n subtropiese tot tropiese klimaat.

’n Weerstelsel wat deur koeler lug van die suide van Australië af gedryf is, het tot swaar neerslae oor die oostelike dele van die land gelei. Weerwaarskuwings is vir ’n afstand van 1 000 km langs die ooskus van Australië uitgereik. Dié weerstoestande sal na verwagting vandag begin opklaar. 

Wat beteken dit vir SA?

Hoewel dit weens verskeie veranderlikes moeilik is om weergebeurtenisse in verskillende lande geografies te verbind, bestaan daar ’n verwantskap tussen die weer in Suid-Afrika en die oostelike dele van Australië, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou. “Die klimaat van Australië en die suidelike dele van Afrika kom redelik ooreen aangesien albei op omtrent dieselfde breedtegraad in die Suidelike Halfrond is. Daar is veral ooreenkomste met droogtes en vloede, maar ook ten opsigte van temperatuur en sneeu.

“Die sneeu daar (Queensland, Australië) kan dus ’n aanduiding wees van ’n goeie kans vir soortgelyke omstandighede in die suidelike dele van Afrika gedurende die winter,” aldus Van den Berg.

Die lug bo Suid-Afrika is redelik vogtig weens die somerreën wat baie laat gekom het, en dié vogtigheid kan saam met koue toestande daartoe lei dat sneeu makliker kan voorkom. Van den Berg sê korttermynvoorspellings dui op redelik koue toestande in Junie en Julie wat die kans op sneeu en stormagtige winterweer oor die suidelike dele van die land verhoog.

“Hoewel koue winters deur baie mense as ongunstig ervaar word, kan dit vir sekere sektore van die landbou soos die wintergraanbedryf en die wingerdbedryf voordele inhou. Dit kan ook help voorkom dat siektes en plae oorwinter,” sê Van den Berg. “In die droogtegeteisterde gebiede van die land kan dit egter nog stremming op diere plaas en beter voeding vereis.” 

Gevaarlike winter

Volgens Van den Berg lyk dit na ’n “baie gevaarlike winter vir kleinveeboere wat hul vee wil skeer voor die volgende produksieseisoen. Dit noodsaaklik om die gereelde aanpassings aan voorspellings dop te hou voor en gedurende die skeerproses. Veral van Julie tot middel September kan die weer groot gevare in dié opsig inhou.”  

Vyf seisoene se ooreenkomste

Die vyf seisoene waartydens Australië die swaarste sneeu aangeteken het, vergelyk volgens Van den Berg goed met swaar sneeuval in Suid-Afrika wat die Suid-Afrikaanse Weerdiens in sy publikasie vir uitsonderlike weergebeure, Caelum, opgeteken het. In 1964 het swaar sneeu in Australië voorgekom, met swaar sneeu wat rondom 18 en 19 Junie 1964 oor die binneland van Suid-Afrika aangeteken is. In 1968 is sneeu ook oor dele van Australië aangeteken, terwyl baie swaar sneeu neerslae rondom 11 en 12 Junie by Jansenville voorgekom het. Die ander winters waarvoor ooreenkomste aangeteken is, is 1981, 1992 en 1957. “ ’n Ander interessante feit is dat byna al die bogenoemde jare ook met winterstorms met sterk wind en reën gepaardgegaan het oor veral die Wes- en Oos-Kaap.”

Verskeie ander weerrekords is vanjaar al in Australië aangeteken, sê Van den Berg. “Dit was die warmste somer en die warmste Januarie in die geskiedenis. Verder het erge oorstromings in die noordoostelike dele van Australië naby Townsville voorgekom waar ongeveer 800 000 beeste gevrek het, terwyl intense droogte in veral Queensland voorgekom en ’n reusestorm gedeeltes in en rondom Sydney ernstig beskadig het.”

sneeu,
Anso Nel het hierdie foto's van sneeu op Donderdag, 6 Junie 2019, op die Swartberge by Oudtshoorn gedeel
sneeu,
Anso Nel het hierdie foto's van sneeu op Donderdag, 6 Junie 2019, op die Swartberge by Oudtshoorn gedeel
sneeu,
Anso Nel het hierdie foto's van sneeu op Donderdag, 6 Junie 2019, op die Swartberge by Oudtshoorn gedeel
sneeu,
Anso Nel het hierdie foto's van sneeu op Donderdag, 6 Junie 2019, op die Swartberge by Oudtshoorn gedeel
sneeu,
Anso Nel het hierdie foto's van sneeu op Donderdag, 6 Junie 2019, op die Swartberge by Oudtshoorn gedeel


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.