Maar kan finansiële instellings regtig help as jou onderneming in die knyp raak weens die virus en die maatreëls om dit hok te slaan? Daar is in dié vroeë stadium nog nie ’n klinkklare antwoord nie. Wat wel duidelik is, is dat banke nou alle moontlike maniere ondersoek om te help.

Standard Bank het reeds bekend gemaak dat hy klein sakeondernemings tegemoet gaan kom deurdat hulle van 1 April tot 30 Junie uitstel kry op die terugbetaal van hul lenings, mits hulle op datum is met die afbetaal van alle lenings.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika sê hy raadpleeg dringend die bankreguleerders en die mededingingsowerhede om uit te vind hoe hy kliënte, klein ondernemings en personeel teen Covid-19, asook die maatskaplike en ekonomiese impak daarvan kan beskerm.

“Ons moet seker maak dat die stappe wat ons doen, billik, doeltreffend en volhoubaar is so lank as wat die pandemie voortduur en selfs daarna,” sê die vereniging, wat al die land se geregistreerde banke verteenwoordig. Hy het onderneem om so gou as moontlik besonderhede bekend te maak van sy stappe om die krisis te verlig.

Iets wat swaar weeg, is die bank se oorkoepelende siening van die ekonomiese lewensvatbaarheid van die onderneming wanneer die krisis weer onder beheer is, sê mnr. Roux Wildenboer, hoof van landbou by Absa se korporatiewe en beleggingsbankdienste.

“Alle banke wil graag ondernemings help wat hulle (die banke) dink ekonomies lewensvatbaar sal wees as die storm eers bedaar het of verby is.”

Die bank se posisie

Die bank se eie geldelike posisie is ook belangrik. “Onthou, banke werk met die publiek se geld en daarom kan hulle net beperkte risiko’s neem. Ons is ook onderworpe aan regulasies waaraan ons moet voldoen.”

Hy sê ekonomiese lewensvatbaarheid beteken die vermoë om skuld te kan terugbetaal. As dit wel moontlik is, kan die bank en die kliënt byvoorbeeld ooreenkom om kapitaalskuldterugbetaling ’n tyd lank uit te stel om kontantvloei te beskerm of die twee partye kan lenings oor ’n langer tyd terugbetaal.

“As daar werklik ’n sterk saak uit te maak is vir die kliënt se lewensvatbaarheid en as sy finansiële stres tydelik is, kan skuldverligting verskaf word.”

Kliënte moet asseblief nie te lank wag voor hulle met die bank in aanraking kom oor hul skuldprobleme nie, sê mnr. Charl Nel, kommunikasiehoof van Capitec Bank. Die bank sal help met herskedulering van skuld waar hy kan.

“Ons sal voortgaan om wanbetalings op ’n individuele grondslag te hanteer deur ons bestaande beleid en prosesse te gebruik.”

Landbouskuld op rekordvlakke

Die landbousektor se skuld is reeds op rekordvlakke, waarsku mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz. Tot in 2018 was die totale skuld R168 miljard, waarvan tot 60% aan handelsbanke verskuldig was, 29% aan die Land Bank en die res aan landbou-ondernemings, private persone en ander instellings.

Deur uitvoerverdienste en binnelandse verkope kan boere die nodige inkomste verkry om skuld terug te betaal, sê Sihlobo. “Daarom moet beleidmakers en finansiële instellings maniere te vind om die finansiële druk van Covid-19 op die landbou te verlig. Dit kan ook help as die kwessie van plaasskuld oorweging geniet.”

Die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) was sedert die aankondiging van ’n ramptoestand voortdurend in gesprek met die regering oor gebeurlikheidsplanne. Die landbousektor is ook deel van dié forum, wat die georganiseerde arbeid, die sakesektor en die regering byeenbring.

In ’n verklaring sê die landbousakekamer Agbiz dat ’n taakspan onder leiding van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gestig is om nasionale en huishoudelike voedselsekerheid te handhaaf. Drie werkspanne konsentreer onderskeidelik op die ekonomiese en maatskaplike impak, en op kommunikasie. “Die kerndoelwit is om voortdurend voedsel aan almal te verseker. Voorsieningskettings moet werk en die in- en uitvoer van landbougoedere moet volgehou word.”