Tog kan dit Suid-Afrika se handelsbetrekkinge met dié land en selfs China ingrypend raak, meen kenners.

Die regering van pres. Donald Trump van Amerika het sy langverwagte Afrika-strategie bekend gemaak. Hoewel beleid nie veel verander het van die vorige strategie wat uit die Obama-era dateer nie, het die klem tog verskuif na die wyse waarop dit toegepas word. Só sê mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, en dr. Tinashe Kapuya, landbou- en tegniese adviseur by die Seriti-instituut in Sandton, in ’n meningsartikel vir Agbiz.

Die VSA plaas steeds groot klem op voorwaardelike steun vir Afrika met uitdrukkings soos “hulp met verantwoordbaarheid” en “verligting met hervorming”, wat daarop dui dat dié moontheid nie Kersvader speel met die handelstoegewings wat hy toestaan nie.

“Die VSA sal nie langer voor die voet hulp oor die hele kontinent verskaf nie,” het mnr. John Bolton, die VSA se nasionale veiligheidsraadgewer, met die bekendstelling van die nuwe strategie gesê.

Dit word ook beklemtoon dat die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa), wat aan Suid-Afrika en ander Afrika-lande tariefvrye toegang tot die Amerikaanse mark bied vir ’n wye verskeidenheid uitvoerprodukte, nie onbepaald sal aanhou nie. Die huidige ooreenkoms verval in 2025 en die VSA wil dié hulpprogram, wat in die Clinton-era ingestel is, ten gunste van “moderne en omvattende bilaterale handelsooreenkomste” beëindig.

“Die Trump-regering se voorkeur is vir bilaterale handelsooreenkomste, terwyl die Obama-regering handelskwessies op multilaterale vlak as mega-streeksooreenkomste hanteer het,” verduidelik Sihlobo en Kapuye. Dit kan beteken dat die Trump-regering sy Afrika-strategie op verskillende maniere met spesifieke Afrika-lande gaan aanpak. Hulle meen die VSA sal veral sleutelmarkte soos Kenia, Suid-Afrika, Nigerië en Egipte in sy visier stel.

Ander verskille

Daar is egter ook ander verskille.

“Die Trump-administrasie se benadering is openlik aggressief, terwyl die Obama-regering sy belange op die kontinent meer diplomaties nagestreef het,” sê Sihlobo. Hy verwys ook na Bolton se sterk bewoorde toespraak wat China en Rusland van “roofsugtige praktyke” in Afrika beskuldig het wat die finansiële onafhanklikheid van die kontinent bedreig en geleenthede vir Amerikaanse beleggings beperk.

“Dit is duideik dat die VSA se Afrika-strategie sy rol op die kontinent wil herposisioneer en in ooreenstemming bring met Rusland en China, maar dan met slegs voorwaardelike steun. Die vraag is of ’n meer aggressiewe Amerikaanse benadering die magsbalans sal verander of selfs Amerika se invloed op die kontinent sal verhoog?”

Dié bilaterale benadering bots met die huidige strewe in Afrika om op streeksvlak ekonomies te integreer, en die gevaar is dat Amerika gesien sal word as ’n boelie wat groter ekonomieë in Afrika ten gunste van kleintjies bevoordeel.

 ’n Byvoeging tot die VSA se Afrika-strategie is die “Prosper Africa” inisiatief, wat oop markte vir Amerikaanse sake-ondernemings in Afrika ten doel het. Dít moet onder meer bereik word deur Afrika se middelklas te laat groei, werkgeleenthede vir die jeug te bevorder en die sakeklimaat te verbeter.

“Prosper Africa is byna ’n uitbreiding van Agoa se doelwitte om steun vir gesonde en deursigtige regering te bied en makliker sake op die kontinent te kan doen,” sê Sihlobo en Kapuya. “Dit lyk asof die klem van ’n handelsbenadering tot ’n beleggingsbenadering verskuif, met Amerikaanse maatskappye in Afrika as streeksdrywers vir ekonomiese integrasie.”

Indien groot multinasionale Amerikaanse maatskappye, veral tegnologie-maatskappye, dit op hierdie wyse regkry om die magsbalans op die kontinent weg van Rusland en China te skuif, kan dit groot verandering en beleidshervormings tot gevolg hê, meen Sihlobo.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.