“Daar is tans ’n leemte in die mark. Die wêreld se verbruikers soek sitrus in die hoop dat die vitamien C hulle sal help teen die aanslae van die koronavirus,” sê mnr. Piet Engelbrecht van die sitrusboerdery Piet Citrus in die Loskopvallei van Limpopo.

Engelbrecht sê sitruskwekers wat reeds hul eerste besendings sitrus na oorsese markte verskeep het, hoop dat die vraag goeie pryse vir boere sal meebring.

Hoewel die in- en uitvoer van vrugte nie geraak word deur die Covid-19-bekampingsmaatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het nie, is daar tog kommer dat die koronavirus onregstreeks ’n impak op vrugte-uitvoer sal hê.

Engelbrecht is bekommerd dat daar binnekort te min vraghouers op Suid-Afrika se hawens beskikbaar gaan wees. “Daar is tans ’n opeenhoping van vraghouers in Hongkong en Europa. In party gevalle verhinder hawe-owerhede dat die houers afgelaai word uit vrees vir Covid-19 en in ander gevalle is daar so baie mense onder selfkwarantyn dat daar niemand is om die vraghouers af te laai nie.”

Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging, het tydens ’n vergadering met me. Thoko Didiza, die minister van landbou, sy kommer uitgespreek oor visums van besoekers uit “hoërisikolande” wat gekanselleer is. Hy sê kaartjies van Japanese en Suid Koreaanse voedselinspekteurs is reeds voor die aankondiging bespreek en hulle word aan einde Maart in Suid-Afrika verwag.

Chadwick sê die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is in gesprek met dié lande om ander maniere te kry om vrugte te inspekteer.

Hy het in ’n skrywe aan die vereniging se lede ook sy kommer uitgespreek oor die risiko wat pakhuiswerkers wat positief toets vir die siekte, vir die bedryf kan inhou.

Engelbrecht sê dit kan rampspoedig vir ’n pakhuis wees as die hele personeelkorps hulself onder kwarantyn moet plaas omdat een werker positief toets. Streng maatreëls word reeds toegepas ten opsigte van higiëne by vrugtepakhuise.

Intussen doen die bedryf wat hy kan om werkers op te lei en ingelig te hou oor die beste praktyke wat hulle kan volg om hulle teen die Covid-19-virus te beskerm.