Terwyl boere in die somerreënstreek hul gewasse stroop, is boere in die winterreënstreek midde-in planttyd en hulle wag op goeie reën.

Die 2019-’20-seisoen is onlangs volgens die Enso- (El Niño Suidelike Ossilasie) indeks tot ’n El Niño-seisoen verklaar omdat die Oseaniese Niño-indeks ’n afwyking van 0,5 °C of meer in seetemperature aangedui het. “Vier van die tydperke van Desember tot Februarie was op die grens van die indeks, met seeoppervlaktemperature wat 0,5 °C warmer as gemiddeld was. In Februarie was dit 0,6 °C warmer as normaal,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Die Enso-verskynsel is een van die belangrikste aanduiders vir somerreënval. Dit bestaan uit drie komponente, naamlik El Niño, La Niña en ’n neutrale fase.

Volgens die nasionale weerdiens van Amerika het El Niño- en La Niña-toestande elk in 40% van die afgelope 20 jaar voorgekom, terwyl die Enso-indeks slegs in 20% van dié jare neutrale toestande gehandhaaf het.

Wat kan die 2020-’21-seisoen bring?

Die IOD- (Indiese Oseaan-dipool) indeks is tans neutraal. Volgens die meeste voorspellings kan dit in die komende maande in ’n negatiewe fase inbeweeg. “Dit impliseer dat die oppervlakwater van die westelike Indiese Oseaan (nader aan Afrika se kuslyn) koeler gaan wees en warmer water meer ooswaarts of nader aan Australië gaan voorkom,” sê Van den Berg. Dié IOD- en Enso-indeks se voorspelbaarheid tydens die herfs is swakker as gedurende ander seisoene.

“Die meeste weermodelle is dit eens dat die kans op ’n herontwikkeling van El Niño-toestande vir die 2020-’21-somer ondergemiddeld is (ongeveer 20%) met ’n kans van ongeveer 40% op La Niña-toestande en 40% op neutrale toestande,” sê Van den Berg. “Op langer termyn – die volgende jaar of twee – kan ’n stadige verandering plaasvind weg van El Niño- en meer na La Niña-toestande.”

Volgens die Australiese buro vir meteorologie se nuutste Enso-indeksverslag dui die meeste weermodelle aan dat die Enso-indeks tydens die winter in die Suidelike Halfrond neutraal sal wees, terwyl drie van die weermodelle aandui dat seevlakoppervlaktemperature La Niña-vlakke kan bereik in die lente.

Moontlike implikasies van dié toestande?

Sowel die IOD-indeks se aanduiding van negatiewe seeoppervlaktemperature as die Enso-indeks se aanduiding van La Niña-toestande is sterk seine vir ’n gunstige impak op reënvaltoestande oor veral die sentrale tot westelike dele van die somerreëngebied.

“Neutrale tot La Niña-toestande is gewoonlik verantwoordelik vir ’n normale tot later as normale begin van die somerreënseisoen, maar bogemiddelde reënvaltoestande vanaf ongeveer November, wat ’n hoogtepunt bereik rondom Januarie. Gewoonlik is die oostelike en noordoostelike dele van die land droër met meer reën weswaarts,” sê Van den Berg. “Volgens dié voorspellings blyk dit dat die uiterste droogte in die westelike binneland in die komende somerreënseisoen kan oorgaan in gunstiger reënval- en produksietoestande.”