Luidens ’n berig op weather.com het die gemeenskap van Orange in Nieu-Suid-Wallis die swaarste sneeu sedert 2015 aangeteken, met sowat 15 cm sneeu wat geval het. 

Die twee streke in Australië en Suid-Afrika se weerstoestande stem gereeld ooreen omdat hulle op dieselfde breedtegraad lê. Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê hoewel die stelsels baie ooreenstem, dui weermodelle nie swaar sneeuneerslae vir Suid-Afrika in die komende weke aan nie.

Tweede deel van die winter

Hy verduidelik dat die grootste deel van die Atlantiese Oseaan wat aan die Suidwes-Kaap grens, tot so ver as die noordelike dele van Angola van 1 °C tot 2°C warmer as normaal is, en dit kan ’n impak op reënval en sneeu hê. Meer vog kan beskikbaar wees wanneer noordwestewinde saam met frontale stelsels voorkom, maar aan die ander kant kan dit weer veroorsaak dat temperature in die bolug nie so koud is nie. Dus lyk dit asof swaar sneeu eers in die tweede deel van die winter kan voorkom, wanneer temperature in die Atlantiese Oseaan na verwagting gaan daal.

Van den Berg sê gevolglik is die kans op kort tot mediumtermyn goed vir reën, maar nie noodwendig vir sneeu nie. Wat die res van die land betref, kan daar veral van die tweede deel van Julie af sneeu begin voorkom oor die Drakensberge. Met die aangrensende Indiese Oseaan se temperature wat koeler as normaal is, kan dit die kans op sneeu in die tweede deel van Julie en in Augustus verhoog.

Van den Berg sê volgens die geskiedenis kom die meeste sneeu gewoonlik voor in die tweede deel van die winter en in die lente, wanneer toestande baie koud is, terwyl daar vog in die lug is met die somerweerstelsel wat begin ontwikkel.

Swaar sneeuneerslae het wel al so vroeg as die begin van Mei voorgekom. Swaar sneeu is op 5 Mei 1940 op die oostelike Hoëveld aangeteken, terwyl swaar sneeu in 1970 al so laat as 6 en 7 Desember in die Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal aangeteken is.

Reën

Die kans op reën bly redelik goed vir die winterreënstreek met ligte reën wat van vandag tot Donderdag oor dele kan voorkom, en swaarder neerslae van meer as 20 mm wat van 21 Junie af moontlik is.

Die beste neerslae van meer as 20 mm word veral oor die Swartland, die Kaapse Metropool en die Wynland-distrik verwag. Minder as 20 mm word verwag oor die Suid-Kaap en die Tuinroete. Verdere goeie neerslae oor die winterreëngebied word in die laaste paar dae van Junie en die tweede week van Julie verwag.

Baie min of geen reën word vir die grootste deel van die somerreëngebied verwag in die volgende drie weke. Dit sluit die droë suidwestelike dele van die Noord-Kaap en die sentrale tot suidoostelike dele van die Oos-Kaap in. Toestande verbeter vir die Oos- en Noordkusgebiede in die eerste week van Julie.

Reënval in Amerika

Met die somergraanoes in Amerika wat die plaaslike graanmark met valkoë dophou, word gemiddelde tot ondergemiddelde reënval vir die grootste deel van Amerika se mieliestreek vir die volgende twee tot drie maande verwag.

Van der Berg sê Augustus en September is die belangrikste maande wat die somergraanoes in Amerika bepaal en tans lyk toestande gemiddeld tot ondergemiddeld. Dit kan ’n wesenlike uitwerking op die oes en internasionale pryse hê.

Toestande is veral swak in die noordelike state van Amerika wat grens aan die groot mere, soos Noord- en Suid-Dakota, asook Minnesota. Baie min reën het in Mei in die omgewings voorgekom. Die sentrale en suidelike dele van Amerika het gedurende Mei bogemiddelde reënval aangeteken, maar dié gebiede is minder belangrike graangebiede of gebiede waar geen graanaanplantings gedoen word nie.