’n Redelike groot gedeelte van die somergraangewasse is nog in die laat reproduktiewe groeistadiums met van 10 tot 30 dae voordat plante fisiologiese volwassenheid bereik.

’n Frontale stelsel het vanaf die suidweste oor die land inbeweeg en reën oor gedeeltes van die Wes-Kaap veroorsaak. “Dit is die koue lug agter die frontale stelsel wat temperature skerp sal laat daal. Dit lyk asof die skerpste daling gaan voorkom oor die suidoostelike dele van die land rondom Dinsdag (7 April) en Woensdag (8 April),” sê mnr. Johan van den Berg, ’n onafhanklike weervoorspeller. 

Van den Berg sê ligte ryp kom gewoonlik voor met temperature van 2 °C tot 4 °C (temperature naby die grondoppervlak kan tot 5 °C laer wees as wat op die meet- en voorspellingshoogte van 1,2 m gemeet word). Matige ryp is moontlik teen 0 °C tot 2 °C en swaar ryp as die temperatuur onder 0 °C is.

“Korttermynvoorspellings dui aan dat temperature tot by vriespunt kan daal op plekke soos Queenstown in die Oos-Kaap en Kokstad in KwaZulu-Natal, wat moontlik matige tot swaar ryp kan veroorsaak,” sê Van den Berg. “Die suidelike dele van die Vrystaat en aangrensende dele van die Noord- en Oos-Kaap kan minimum temperature van 3 °C tot 5 °C verwag, wat ligte ryp tot gevolg kan hê.

Somergraangebied

“Na verwagting gaan minimum temperature nie onder 5 °C daal in die grootste deel van die somergraangebied nie. Op Bothaville word 5 °C tot 7 °C verwag, op Reitz 6 °C tot 10 °C, op Ermelo 8 °C tot 11 °C, op Upington ongeveer 9 °C en op Kroonstad nie laer as ongeveer 8 °C .”

Dit is nie ongewoon om in die eerste week van April ligte ryp te kry nie. In die afgelope 20 jaar is in tot 30% van die jare in die eerste week van April temperature van benede 5 °C oor die suidelike en suidoostelike dele van die land aangeteken. Voorbeelde van sulke jare was 2007, 2008, 2013 en 2017. “Koue toestande in die eerste deel van April is dikwels nie ’n aanduiding dat temperature konstant laag gaan bly vir die res van April nie. Dit word weer warmer voordat dit gewoonlik kouer word in die eerste week van Mei,” sê Van den Berg.

“Die vogtige toestande en nat grond wat tans oor dele voorkom, gaan ook help dat rypskade nie ernstig behoort te wees nie.” Volgens Van den Berg dui voorspellings tans aan dat temperature nie tot op vlakke van rypskade gaan daal oor die grootste deel van die somersaaigebied nie. “Rypskade en lae temperature kan wel oor die Suid-Vrystaat, die Oos-Kaap en oostelike dele van die Noord-Kaap se besproeiingsgebiede op laat aanplantings in veral laaggeleë gebiede en langs riviere voorkom.”

Minimum temperature behoort weer van Donderdag (9 April) af hoër te wees.