Mnr. Keith Middleton, Afasa se sekretaris-generaal in die Vrystaat, wat namens Afasa op ’n nasionale simposium oor die toekoms van landbouwaterbestuur in Suid-Afrika gepraat het, het gesê dit is die enigste manier waarop water hertoegedeel kan word. “Afasa se voorstel is dat daar ’n verifikasie- en waardasieproses regdeur die land voltooi moet word om te sien wie besit die water en waarvoor word dit gebruik.”

Die simposium is deur die Waternavorsingskommissie en die Universiteit van die Vrystaat aangebied.

“Dan kan ons druk uitoefen vir die herlisensiëring van alle watergebruiksregte. Ons sit nou met ’n scenario van sogenoemde waterboere waar mense met hul waterregte boer deur dit onderling te verhandel. Ons het watergebruikers op sekere besproeiingskemas gevra of hulle met die oog op toekomstige ontwikkeling 5% van hul water kan toeken aan die ontwikkeling van swart boere. Die antwoord was ’n nadruklike nee, dit sal nooit gebeur nie.”

Middleton het gepleit dat swart boere in Suid-Afrika dieselfde erkenning as kommersiële boere kry. “Ons wil nie klein bly nie, ons wil nie voorheen benadeelde boere bly nie, ons wil nie kleinskaalse boere bly nie. Om die waarheid te sê, dit is ’n neerhalende term en dit maak my siek wanneer ek dit hoor. Ons moet ’n kopskuif maak.”

Hy het gesê toe swart boere voor 1994 die landbousektor betree het, was daar sekere werklikhede waarmee hulle te make gekry het. Nie baie swart boere was regstreeks betrokke by die verkryging van watergebruiksregte nie. “Gevolglik het ons gevind dat die meeste van die water deur die kommersiële sektor benut is, wat voordeel getrek het uit die situasie en hul werkers selfs voorgehou het om verdere toegang tot water te kry. Dit was die scenario in die meeste provinsies.”

Hy het gevra hoe kan swart boere die sektor betree en ontwikkel in kommersiële boere as hulle nie toegang het tot die kosbare en skaars hulpbron nie. “Daar moet herbesin word oor die toekenning hiervan. As dit mense ekonomies bemagtig, is daar net een groep wat etlike dekades lank daaruit voordeel getrek het en die ongeregtighede van die verlede moet nou reggestel word.”

Middleton het gesê wanneer ’n hulpbron skaars is, ondersteun Afasa tegnologie en beter benutting van grondwater om die bedryf te laat herleef. Dit sal lei tot groter watersekerheid. 

“Ons moet saamstaan en met innoverende en slim skuiwe vorendag kom om toegang tot die landbou vir swart boere te bewerkstellig en hulle te ontwikkel. Ons moet egter nou kyk oor hoe ons te werk gaan met die bestaande water, want die scenario is eenvoudig: 90% van die benutbare landbouwater in Suid-Afrika is in kommersiële hande. Dit is ’n feit. Ja, dit is ’n gevoelige onderwerp, maar daar moet van albei kante na die situasie gekyk word. Terwyl ons kyk na die verspreiding van water om voedselsekerheid te verseker, moet ons ook kyk hoe dit die ekonomiese ontwikkeling van swart boere raak.”

Wegbeweeg van kleinskaals

Hy het gesê hy het op die simposium baie gehoor van kleinskaals. “Wys my in hierdie tye enigiets wat kleinskaals is, en ek sal jou alles wys wat beperkend is ten opsigte van ekonomiese ontwikkeling. Ek wil hê ons moet wegbeweeg van kleinskaals. Kom ons kyk na swart boere en hoe ons swart kommersiële boere kan vermeerder en hoe ons voedselsekerheid kan verbeter met die betrokkenheid van swart deelname danksy inklusiewe groei en ontwikkeling.”

Mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, het in reaksie gesê die grootste risiko is dat daar nie onderling in die sektor met mekaar gepraat word nie. Hy meen Middleton se standpunt is baie waardevol.

“As ons na die landbou wil kyk as ’n lewensvatbare bedryf in Suid-Afrika, gaan dit die insluiting van die swart landbousektor vereis. Ek stem saam kleinskaals is nie die regte term nie, maar eerder ’n ontluikende sektor wat ontwikkel tot ’n groot kommersiële sektor.”

Hy het gesê die missie waarop almal kan ooreenkom, is om die belange van almal in die landbou se watersektor te bevorder. “Die landbou is die grootste gebruiker van water in Suid-Afrika. Die sektor in sy geheel gebruik sowat 60%. Hou egter in gedagte dat die landboubedryf heel agter in die ry staan. Eers nadat almal, insluitend stedelike gebiede, nywerhede en myne water gebruik het, kom dit uit by landbou wat 60% gebruik, terwyl die internasionale gemiddelde vir ’n land met voedselsekerheid 70% is.” 

Skep mark vir water

Prof. Andries Jordaan, ’n rampbestuurskonsultant, het gesê grondhervorming moet suksesvol geskied en dit is nie onderhandelbaar nie. “Ons moet verseker dat daar gelyke toegang tot water is en ons moet ’n mark vir water skep. Soos in die geval van renosters, moet water gekommersialiseer word, want dan sal dit bewaar word.”

Hy het gesê water moet nie as ’n politieke speelbal gebruik word nie. In landelike gebiede soos Qwaqwa sny raadslede soms doelbewus watertoevoer af sodat hulle self kan baat by water wat met vragmotors gelewer kan word.

Hy glo goeie voorligtingsdienste aan nuwe boere is noodsaaklik. Dit is volgens hom ’n les wat reg oor Afrika geleer is. Sonder deeglike voorligtingsdienste kan die landbou nie suksesvol wees nie. Daar moet ook ’n deeglike keuringsproses wees vir begunstigdes van grondhervorming om te verseker dat hulle suksesvol kan boer. Verder is vennootskappe tussen boere, die regering en die private sektor noodsaaklik.

Oor waterverbruik het hy gesê dit moet op plaaslike vlak deur verbruikers bestuur word. “Ons kan nie met munisipaliteite sit wat 40% van hul toegewysde water deur lekkasies verloor nie. Desentraliseer waterbestuurstelsels so ver moontlik. Laat dit in die hande van besproeiingsrade wat water kan bestuur. Waterbestuur in die land kan nie gesentraliseer word nie.”