Mnr. Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het Donderdag aangekondig dat waterbeperkings in die Stad Kaapstad se munisipale gebiede van 1 Desember af van vlak 5 tot vlak 3 verslap sal word.

Luidens ’n verklaring van die Stad Kaapstad volg dié besluit ná ’n vergadering tussen die Departement van Waterwese en Sanitasie, en waterverbruikers van die Wes-Kaap se waterstelsel. Laasgenoemde sluit die landbousektor, die Wes-Kaapse regering, munisipaliteite en die Kaapse metropool in.

’n Besparing van 10% tot 20% is vir stedelike gebruikers voorgestel. “Die Stad Kaapstad het egter besluit om ’n meer versigtige 30%-besparing toe te pas om te help met die herstel van damvlakke en om voorsiening te maak vir die onsekerheid wat bestaan rondom reënvalvolumes en -frekwensie in 2019.”

Die totale toelaatbare waterverbruik van die gebied word deur middel van dié verslapte beperkings van 500 miljoen liter per dag tot 650 miljoen liter per dag verhoog. Die waterverbruik per individu word sodoende van 70 liter per dag tot 105 liter per dag verhoog.

‘Elke liewe druppel’

Mnr. De Wet Viljoen, ondervoorsitter van die Pinotage-assosiasie en wynmaker op Neethlingshof, sê hulle is baie verlig oor die stap. Hy sê waterverbruikers het reeds kennisgewings van die Helderberg-besproeiingskema ontvang dat waterbeperkings verslap gaan word.

Volgens Viljoen het boere vindingryke maniere gevind om water optimaal te gebruik sedert die eerste waterbeperkings ingestel is. Die landbousektor is tydens die hoogtepunt van die droogte tot slegs 40% van sy normale verbruik beperk.

“Om al hul bedrywighede weer op dreef te kry is ek seker boere gaan nou elke liewe druppel tot hul beskikking gebruik en elke liewe druppel met wysheid gebruik,” sê Viljoen. “Besproeiingsrade sal ook moet toesien dat waterverbruik binne die bepalings van die beperkings plaasvind.”

Agri Wes-Kaap sê terwyl hy wag op die amptelike aankondiging van die Departement van Waterwese en Sanitasie oor dié waterbeperkings, is hy verlig oor die verslapping daarvan vir die landboubedryf. “Dit sal die sektor help om te herstel van die skade wat die erge watertekorte die afgelope paar maande veroorsaak het. As waterbeperkings op 60% gebly het, sou gewasse nie kon herstel nie.”

Die organisasie het ook sy dankbaarheid uitgespreek oor die goeie verhouding wat tussen die Stad Kaapstad en die landbousektor in die Wes-Kaap gevestig is. “Die Stad Kaapstad en die landbousektor word albei ernstig geraak deur die droogte en konstruktiewe verhoudings is noodsaaklik om die probleme tot voordeel van die landbousektor én die inwoners van die metropool te bestuur.” Agri Wes-Kaap bedank ook mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Waterwese en Sanitasie, dat hy die belangrikheid van water vir ’n volhoubare landbousektor en voedselsekerheid verstaan. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.