Duisende rande se skade is aangerig toe die hoofkanaal tussen Kirkwood en die Scheepersvlaktedam, aan die noordelike kant van die Sondagsrivier-besproeiingstelsel, Woensdagmiddag meegegee het en sitrusboorde oorstroom het. Die kanaal verskaf ook water aan besproeiingsboere by Addo en die Nelson Mandela-metropool.

Mnr. Hannes Joubert van Habata-boerdery by Kirkwood, sê sowat 26 ha van sy suurlemoen- en Tangoboorde op sy plaas waar die kanaal gebreek het, is oorstroom en lê onder ’n dik laag slik. “Dit is net genade dat dit in die dag gebeur het en die water in die kanaal vinnig afgekeer kon word, anders sou die skade veel groter gewees het.”

Volgens Joubert voorsien die kanaal, wat in 1986 gebou is, water aan sowat 8 000 ha sitrus- en ander gewasse wat by Addo en Barkly Brug verbou word. “Dit wys maar net weer watter risiko’s daar aan die landbou verbonde is.”

Herstel

Mnr. Harms du Plessis, die hoofuitvoerende beampte van die Sondagsrivier-watergebruikersvereniging op Kirkwood, sê gebeurlikheidsplanne is reeds in werking gestel om die water in die kanaal te herlei om te verseker dat boere en die Baai so spoedig moontlik weer van water voorsien kan word.

“Ons hoop dat die noodherstelwerk wat deur instandhoudingspanne van Waterwese en Sanitasie gedoen sal word, binne 10 dae voltooi sal wees. Om die kanaal te herstel, sal egter maande duur aangesien duisende kubieke meters grond vir opvulwerk gevind sal moet word waar die kanaal meegegee het."

Waterverliese kon tot die minimum beperk word deur die sluise by die Koransdrift-uitkeerwal na ander dele van die Sondagsrivier-besproeiingstelsel te herlei.