Mnr. Tersius Meyer, voorsitter van die Gamtoosbesproeiingsraad en sitrusboer, sê daar het van 20 mm tot 35 mm in die Gamtoosvallei geval, wat gelykstaande is aan ongeveer een besproeiing se water. “Die reën wat nou geval het, is baie welkom. Hoewel dit nie ’n uitkoms is nie, bring dit wel verligting.”

Hy sê egter dat boere vir die tweede jaar reeds hul sitrusboorde met slegs 40% van die normale waterkwota moes besproei. Saam met ondergemiddelde reënval sover die seisoen kan dit ’n invloed op vruggrootte kan hê.

Boere het marginale boorde wat oor vyf of ses jaar eers vervang sou word, nou al uitgehaal. Volgens Meyer moes hulle besluit watter boorde hulle moet uithaal, watter hulle aan die gang moet hou en watter bome se oeste moet hulle grootmaak met die kwota, terwyl groenteboerdery op baie plase opgeskort is.

Die Kougadam was aan die einde van die vorige besproeiingsjaar in Junie 2018 slegs 7% vol toe die watertoewysing gemaak is. Dié beperkings sal eers opgehef word as die gesamentlike vlak van die damme in die Algoawaterstelsel tot bo 65% styg. Die Kougadam staan tans op net onder 46%.

Volgens Meyer is opvolgreën nou nodig om ’n verskil aan die Kougadam te maak. “Dit is ongelukkig die probleem met die huidige droogte. Dit reën ondergemiddeld en daar is nie opvolgreën nie.”

Hy sê die streek het in September 2018 baie reën gekry het wat die Kougadam se vlakke noemenswaardig verbeter het, maar daarna het die reën weggebly.

Volgens Meyer kry melkboere naby die Gamtoosmond, wat ook uit die Gamtoosbesproeiingstelsel water kry, swaar aangesien die huidige waterkwota nie genoeg is om voldoende weiding te produseer nie. Met die reën wat wegbly, moet die boere voer aankoop. Gevolglik trek hulle finansieel swaar. 

Die Langkloof

Mnr. Marius van der Westhuizen, vrugteboer en verteenwoordiger van Hortgro in die Langkloof, sê van 30 mm tot 40 mm het oor dele van die Langkloof uitgesak.

Hy sê hoewel dit baie welkome reën is, loop die riviere nie juis sterker nie. “Dit sal ’n goeie bydrae lewer tot grondvog, maar nie tot die afloop na die Kougadam nie.”

Volgens Van der Westhuizen is sowat 25% van die laat appelkultivars soos Granny Smith, Pink Lady en Sundowner nog aan die bome. Die enigste invloed van die reën is moontlik kneusings aan die vrugte, maar ’n dag of twee aan die bome sal dit voorkom. “Die reën is eintlik net voordelig.”

Van der Westhuizen sê die plaasdamme aan die oostekant van die kloof, wat boere se hoofbesproeiingsbron is, is amper vol. Die eintlike waterkrisis is in die Bo-Langkloof naby Avontuur, waar die boere se damme leeg is. Die reën is daar baie welkom.

Boere in die kloof mag die seisoen slegs 40% van die water in hul damme benut om druk op die Algoawaterstelsel te verlig.

Volgens Van der Westhuizen was die oes die vorige jaar tussen 20% en 30% kleiner. Hy verwag dat hy op sy plaas net ongeveer 10% nader aan sy gemiddeld oes sal behaal weens die effek van die droogte, ondanks die goeie reën deur die seisoen. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.