Dit is een van die voornemens van die provinsie se watermeesterplan, sê mnr. Chris Pappas, wetgewerlid en die DA se woordvoerder vir samewerkende regering en tradisionele sake in KwaZulu-Natal. Die provinsie het groot watertekorte en veevrektes weens die droogte beleef.

Nog ’n voorneme wat betrekking op die landbousektor kan hê, is strenger optrede teen die onwettige onttrekking van water en waterbesoedeling.

Die provinsiale departement van samewerkende regering het die plan onlangs voorgelê aan KwaZulu-Natal se portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake. Die doel van die plan is om die huidige en toekomstige vraag na water aan te pak. Dit identifiseer kort-, medium-, en langtermyningrypings om watersekerheid op lang termyn te verseker vir huishoudelike gebruik, asook vir die landbousektor en ander ekonomiese aktiwiteite.

In die voorlegging word aangedui dat slegs twee van die 14 munisipaliteite in die provinsie die verlangde 8% van sy toegestane begroting aan onderhoud bestee. Meer as R5,6 miljard word benodig om onderhoudskwessies rakende waterinfrastruktuur op te los en R100 miljard om te verseker dat die huidige en toekomstige waterbehoeftes in die provinsie vervul sal word. By altesaam 40% van die infrastruktuur moet ingrypings binne die volgende twee jaar kom. Boonop word aangedui dat die meeste van die munisipaliteite uitermatige of hoë waterkwesbaarheid ervaar.

Ambisieuse plan 

Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê die provinsie se waterplan is baie ambisieus. “Mens bevraagteken of die begroting en hulpbronne bestaan wat benodig word om te verseker dat die plan materialiseer. Die rampspoedige mislukking deur baie munisipaliteite om die huidige waterplan uit te voer, het in sommige gevalle onder meer gelei tot watertekorte, swak gehalte water en vervalle infrastruktuur.”

Sy is dit eens dat indien meer water oor die jare opgegaar is, kon dit boere gedurende droogtetoestande gehelp het. Die meesterplan sal die nodige finansies, rekenpligbaarheid, onberispelike bestuur en verbintenis van almal verg.

“Kwanalu en sy lede sal ’n rol speel om te verseker dat waterhulpbronne beskikbaar is vir kosproduksie vir die land.”

Probleme

Die provinsie se departement van samewerkende regering erken in die voorlegging dat ’n tekort aan onderhoud sy “grootste diensleweringsprobleem” is. “Kapitaaltoelaes word vandag gebruik om dinge op te knap wat tien jaar gelede met kapitaaltoelaes gebou is.” Die departement erken hy het nog nie die regte balans bereik tussen kapitaalwerk om agterstande uit te wis om “nuwe agterstande” te voorkom deur die nodige onderhoud te doen nie.

Die groot toelaes is daar om kapitaalwerk te subsidieer en dus bestaan daar nie subsidies om na die bates om te sien nie.

Pappas sê in die algemeen toon munisipaliteite nie volhoubare bestuurspraktyke nie met hul hoë afhanklikheid op eksterne finansiering en die swak invordering van skuld. Hy sê sy party glo deur die versekering van goeie bestuur, rekenpligbaarheid en deur gevolge te bestuur, kan ’n toekomstige waterkrisis afgeweer word. Finansiering is belangrik sodat die meesterplan deurgevoer kan word en wetgewing moet gewysig word om die vereistes van die meesterplan op plaaslike en distriksmunisipliteite af te dwing.

Daar word nog aan die meesterplan gewerk.