Die bepaling dat watermeting vanaf 1 Maart vanjaar verpligtend is, asook die maandelikse byhou van waterverbruikersrekords, het besproeiingsboere onkant gevang omdat daar geen gepaardgaande regulasies was oor die tipe metingsinstrumente en gebruik daarvan nie.

Nou is daar kommer dat watergebruikers vervolg kan word as hulle nie aan die Departement van Waterwese en Sanitasie se vereistes in dié verband voldoen nie.

Mnr. Wayman Kritzinger, voorsitter van Agri SA se natuurlike hulpbronnekomitee, sê ofskoon sommige boere intussen watermeters aangeskaf het, wat vanaf R5 000 beskikbaar is, het die Department van Waterwese en Sanitasie en WNNR te kenne gegee dat die betrokke meters nie betroubaar is nie. Hulle is nou besig is om na ander meters te kyk wat aan hulle vereistes sal voldoen. Die betrokke meter sal glo sowat R20 000 kos.

Boere in die duister

“Ons wag nou om te hoor wat aanvaarbaar sal wees en dan moet die besonderhede daarvan in ’n regulasie vervat word. Die grootste probleem is dat die kalibrasie van die meters elke vyf jaar slegs gedurende die droë tydperk, wat vier tot ses weke duur, gedoen sal kan word. Met meer as 6 000 geregistreerde waterverbruikers sal dit ’n onbegonne taak wees.”

Kritzinger sê dit is onaanvaarbaar dat besproeiingsboere wat reeds meters aangeskaf het, of beplan om dit te doen, nou in die duister is oor wat hulle te doen staan. “Ons raad is dat hulle moet wag tot daar meer duidelikheid oor die regulasies is. Die department het nietemin onderneem om landbou te betrek wanneer daar verder oor die beskikbaarstelling van ’n doeltreffende en bekostigbare instrumente, asook kalibrasie daarvan, onderhandel gaan word.

Mnr. Adriaan Groenewald, ’n prokureur van Humansdorp wat spesialiseer in water-aangeleenthede, sê die watermeters is verpligtend vir diegene vir wie die departement opdrag gee om dit te installeer.

“Die regulasies bepaal nie dat die meters deur die bank verpligtend is vanaf 1 Maart nie, maar die departement het nou die reg om, waar hulle meen dis nodig, vir daardie gebruiker opdrag te gee om ’n meter te installeer. Dit is in elk geval ’n standaardklousule in lisensies deesdae.”

Wag vir riglyne

Groenewald sê in geen stadium het die departement vereistes gestel vir sulke duur meters nie.

“Daar is nog nie spesifikasies van hoe die meters moet wees nie. Daar is gewis baie meters in die mark wat nie betroubare lesings gee nie. DWS is besig om te kyk na riglyne in hierdie verband,” sê hy.

Hy is bewus van gevalle waar die departement juis watervoorsieningsrade versoek het om nie “op die spreekwoordelike wa te spring met ’n klomp spesifikasies nie”, want dit sou lei tot onbekostigbare meters en dus onnodige uitgawes vir gebruikers.

“Die doelwit is om die waterbron te beskerm. Die meeste van die waterdispute waarmee ek gekonfronteer word, sal gemaklik opgelos kan word deur doeltreffende, koste-effektiewe meting van watergebruik. Hierdie is ’n ideale geleentheid vir die besproeiingsektor om hande te vat met DWS en behoorlike riglyne ingestel te kry,” sê Groenewald.

- deur Jeanne van der Merwe en Theuns Botha