Die eens veilige waterposisie in die Wes-Kaap is vinnig besig om in 'n krisis met ernstige langtermyngevolge te ontaard, sê mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Die organisasie sê in 'n verklaring produsente wat water van die Theewaterskloofdam ontvang kan skade aan tot 'n derde van hule oesvolumes ontvang indien reën nie voor die einde van die maand begin uitsak nie.

Die situasie vir volgende jaar se oes lyk ook bedenklik, weens die tekort aan na-oes water.

Met minder as 25% water oor in die Theewaterskloofdam, is produsente wat van dié dam af water ontvang, se gebruik met 30% beperk. Nóg 'n ondergemiddelde reënseisoen sal tot 'n volskaalse krisis vir die landbou lei.

Is landbou 'n prioriteit?

Kommer heers ook oor die prioritisering van waterverskaffing. Talle boere is bekommerd dat die landbougemeenskap aan die kortste end sal trek indien die waterbergingsteiken van 85% nie gehaal word nie.

"Die regering moet besin tot op watter punt stedelike groei swaarder weeg as die ekonomiese volhoubaarheid van kritiese landboustreke in die toekoms," sê Agri Wes-Kaap.

Intussen is die gebrek aan genoeg bergingskapasiteit nie net vir die Regering maar ook vir individuele boere 'n uitdaging.

" Produsente moet ook toegelaat word om stoorkapasiteit as buffer in krisistye te skep. Streng regulasies met betrekking tot die vergroting van damkapasiteit op plase is teenproduktief omdat burokratiese prosesse jare vat en omgewingsimpakstudies duur en tydrowend is."

Produsente het ingespring om van indringerplante ontslae te raak wat doeltreffende waterbestuur en -kwaliteit in bo-lope, waterkanale en oewers benadeel. Die Regering se versuim om dié belangrike taak te vervul, beteken produsente moet duisende rande uit hulle eie sak gebruik.