Die uitspraak het ook die vlerke van die wanfunksionele Watertribunaal ietwat geknip met ’n opmerking dat dié liggaam nie regsbesluite mag neem nie.

Die uitspraak van waarnemende regter Con Joubert, in ’n dringende aansoek om 227 ha se watergebruik tydelik oor te dra van een plaas na ’n ander by Piketberg, beteken egter nog nie dat die wettige verhandeling van waterregte nou ’n uitgemaakte saak is nie.

Mnr. Adriaan Groenewald, ’n prokureur wat spesialiseer in waterreg, wys daarop dat die uitspraak spesifiek gaan oor die tydelike oordrag van watergebruik, in omgangstaal bekend as die verhuring van watergebruiksregte, en nie oor permanente oordragte nie.

“Hoewel die regter ’n paar belangrike positiewe opmerkings oor permanente oordrag van water gemaak het, is dit slégs terloopse uitlatings, en nie deel van die beslissing nie en gevolglik nie bindend nie,” sê Groenewald.

Magte

Groenewald sê die uitspraak beklemtoon die magte, pligte en regte van besproeiingsrade, wat nog kragtens die herroepe Waterwet van 1956 optree.

“Hoewel die regter nie daaroor beslis het nie, is hier belangrike uitkomste vir besproeiingsrade waarvan talle van hulle nie bewus is nie. So byvoorbeeld kan permanente oordragte buite ’n staatswaterbeheergebied ingevolge die herroepe Waterwet plaasvind, dus sonder goedkeuring van die Departement van Waterwese en Sanitasie.”

Groenewald sê wat verder belangrik is, is dat die regter beslis het dat besproeiingsrade wel die mag het om ’n tydelike oordrag van watergebruik na ’n ander eiendom in dieselfde gebied, wat nie besit word deur die lisensiehouer nie, goed te keur.

Besproeiingsrade was vanjaar genoop om nie meer tydelike oordragte in hul gebiede goed te keur nie nadat Waterwese begin vanjaar in ’n omsendbrief gesê het dit is onwettig.

Watertribunaal

Groenewald sê Joubert se uitspraak oor die Watertribunaal is ook uiters waardevol vir boere en alle ander belanghebbendes wat met die waterreg te doen het.

“Die regter het opgemerk dat die Watertribunaal ’n administratiewe liggaam is wat binne die raamwerk van die Grondwet optree en nie ’n hof nie. Dit is ’n baie belangrike onderskeid, naamlik dat die Watertribunaal nooit daar was om regspunte te beslis nie. Ongelukkig het die Watertribunaal daardie rol begin vervul.

“Tans is die tribunaal sonder voorsitter en kan hy dus nie regsgeldige sittings hê nie. Dit terwyl watergebruikers wat teen die departement se besluite wil appelleer, hul appèl aan die Watertribunaal moet rig.

“Dit is bekend dat die tribunaal reeds ’n geruime tyd geen sittings hou nie en daar is hordes uitstaande sake.”

Berus

Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van Waterwese, het by navraag oor die uitspraak gesê die departement eerbiedig die bevinding deur die hof en sal hom daarby berus.

“Wat [dié saak] die departement geleer het, is dat die aangeleentheid van wetshervorming selfs dringender geword het. Die doel van dié hervorming is om onder meer die gedagte van ‘gebruik dit of verloor dit’ te hanteer, sowel as, en meer belangrik nog, om die kwessies van hulpbron-arm en ontluikende boere aan te spreek.” 

* Lees die volledige uitspraak hier

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.