Dit blyk uit die antwoord van mnr. Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, op ’n parlementêre vraag van me. Makoti Khawula, EFF-LP. Khawula wou ook weet hoeveel van die land se watersuiweringswerke wel werk.

Nkwinti sê altesaam 70 watersuiweringswerke in ses provinsies is buite werking. Hiervan is 47 in KwaZulu-Natal.

Van die 243 watersuiweringswerke in KwaZulu-Natal is 196 in ’n werkende toestand. Van die 47 wat buite werking is, is agt reeds vier jaar buite werking en 39 is twee jaar buite werking.

Nkwinti sê sewe van Mpumalanga se 105 watersuiweringswerke is al langer as ’n jaar buite werking. In die Noord-Kaap is een van die 166 watersuiweringswerke die afgelope twee jaar buite werking.

Van die 89 watersuiweringswerke in Limpopo is sewe buite werking. Een van dié provinsie se stelsels is reeds ’n dekade buite werking en nog twee reeds elf jaar. Drie is die afgelope vyf jaar buite werking, terwyl een ’n jaar buite werking is.

Vier van die 136 watersuiweringswerke in die Wes-Kaap is buite werking, met een wat reeds die afgelope vyf jaar buite werking is.

Geen water

In die Vrystaat is vier van die 87 watersuiweringswerke buite werking. Een van dié stelsels is reeds drie jaar buite werking omdat dit geen water van die Lovedaledam kry nie. Een vir drie jaar buite werking omdat ’n waterpompstasie gebreek het. Die werk aan die pompstasie is nou voltooi, sê Nkwinti. Die munisipaliteit probeer om dit met ongesuiwerde water te vul sodat dit kan begin werk.

Nog twee stelsels in dié provinsie is onderskeidelik vier en ses jaar buite werking weens ’n tekort aan ongesuiwerde water.

Nkwinti sê watersuiweringswerke is die verantwoordelikheid van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake. Sy departement monitor slegs of die geriewe aan die vasgestelde vereistes voldoen.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.