Hy het by ’n mediageleentheid waar terugvoer oor die werk van die onderskeie afdelings gegee is, gesê Agri SA probeer help om die bootjie vaarbaar te kry. “As ons dit nie doen nie, sal daar meer probleme met watergehalte kom. Daar sal nog minder kennis wees oor hoeveel water daar in die land is en hoeveel gebruik word.”

Mnr. Janse Rabie, hoof van die afdeling, sê die landbou se water is altyd in die spervuur, omdat die landbou die grootste verbruiker is. “Die feit is dat boere eintlik die hiëna-aandeel van die water kry. Nadat die nywerhede en myne gehelp is, kry ons dit wat afloop voor dit die see bereik.”

Hy sê daar is deurentyd gerugte oor die bedreiging van boere se watergebruiksregte en die hersiening van die regulasies ingevolge waarvan lisensies toegeken gaan word. 

“Intussen kan die Regering nie sê hoeveel water in die land beskikbaar is nie. Die landbou bly egter in die spervuur as die grootste verbruiker. Grond en water is nouer ineengeskakel as wat mense besef. As daar oor die onteiening van grond gepraat word, gaan dit ook gepaard met die wegneem van wategebruiksregte.”

Rabie het verwys na hofsake waarby Agri SA betrokke is. Hy bestempel dit as waterskeidingsoomblikke wat dopgehou moet word.

Agri SA is ook ten nouste betrokke by die kwessie van aansoeke vir skaliegas-ontginning. Hy sê Agri SA se regskoste in die saak teen Rhino Oil and Gas se aansoek om prospekteringsregte kan Agri SA R1,35 miljoen uit die sak jaag. “Die regering het ’n groot aptyt vir gasontwikkeling. Ons is nie gekant teen skaliegas as sodanig nie. Wat ons wel bekommer, is dat die regering nie kan sê waar die groot hoeveelhede water wat nodig is, vandaan gaan kom nie. Ons is ook bekommerd oor die besoedeling waarmee dit gepaard gaan.”

Hy sê die howe is die laaste uitweg waartoe Agri SA hom wil wend, maar soms is dit nodig. Hy glo daar sal vanjaar heelwat litigasie wees. 

In ’n verslag oor die werk van die afdeling vir landelike veiligheid het mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter, gesê ’n nuwe strategie vir landelike veiligheid sal waarskynlik binne die volgende twee maande bekend gestel word.

“Feitlik alles waarvoor ons gevra het, is daarin vervat. Op nasionale vlak beskou die polisie ons as ’n vennoot en dit stem ons optimisties. Wat onder meer in die hersiene strategie opgeneem is, is probleme soos grondbesettings, diefstal van skrootmetaal, koperkabels en sinkplate, en ander misdaadprobleme op plase. Veiligheid is vir ons lede dié belangrikste kwessie en ons sal daarop aandring dat die staat sy verpligtinge nakom.” 

Esterhuyse sê die afgelope twee jaar het die Agri Securitas-trust R10 miljoen ingesamel wat vir 45 veiligheidsprojekte aangewend is waarby 3 500 boere en 51 000 plaaswerkers baat gevind het. Dit sluit onder meer veiligheidskameras en kommunikasietoerusting in.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.