Mnr. Mlungisi Johnson, voorsitter van die parlementêre komitee vir water en sanitasie, het by 'n geleentheid in Kempton Park waar verslae oor munisipale waterdienste bekend gestel is, wit boere daarvan beskuldig dat hulle water steel.

Johnson sê sulke sake word deur die Departement van Water en Sanitasie se Blou Skerpioene ondersoek, maar hy kon nie meer besonderhede gee nie. Die departement het nie teen publikasietyd op vrae gereageer oor hoeveel boere al aangekla en vervolg is nie.

Volgens Johnson is daar baie voorbeelde van sulke diefstal deur boere, byvoorbeeld uit die Vaalrivier en Gariepdam en ook uit bronne in die Humansdorp-omgewing.

Lees ook:

‘Blaps’ kos Waterwese dalk R100 000

Onwettige ontginning beskadig waterpan

“Hulle (die boere) leef groot, hulle betaal niks vir water nie.” Johnson het ná die tyd aan Landbouweekblad gesê boere verbind hul besproeiingsinfrastruktuur met riviere en staatsdamme en gebruik dan die water sonder om daarvoor te betaal. Dit terwyl sowat 60% van die land se water reeds deur die landbousektor gebruik word.

Mnr. Nigel Adams, voormalige hoof van die Blou Skerpioene wat in Desember verlede jaar aan kanker dood is, het in Desember 2014 in 'n verklaring gesê onwettige gebruik van water by nywerhede en op plase neem toe en dat die eenheid meer gereeld sou optree.

Die eenheid het toe juis 'n Limpopo-boer aangekla omdat hy na bewering onwettig water uit die Phalaladam vir die besproeiing van sy gewasse onttrek het. Adams het gesê mense wat hieraan skuldig bevind word, kan met tot R500 000 beboet word en/of tronkstraf kry.

Mnr. Adriaan Groenewald, 'n prokureur van Groenewalds Prokureurs in Humansdorp wat in waterreg spesialiseer, het by navraag aan Landbouweekblad gesê hy werk landwyd met waterregte in die landboubedryf, maar sover sy kennis strek was daar nog nie 'n boer wat aan waterdiefstal skuldig bevind is nie.

Boere kry gewoonlik die geleentheid om aansoek te doen om hul gebruik te wettig. Groenewald sê sulke aansoeke word op streekvlak ingedien maar op nasionale vlak goedgekeur. Die verwerking daarvan het gewoonlik minstens een jaar geneem, maar die staat wend nou blykbaar daadwerklike pogings aan om dit in die toekoms vinniger af te handel.

Groenewald sê boere in die algemeen wil die wet probeer nakom en die regte prosedures volg om waterlisensies te kry.