Mnr. Trevor Balzer, adjunkdirekteur-generaal by die Departement van Water en Sanitasie, het aan Landbouweekblad gesê die verwagting is dat boere vrywillig sal ophou water pomp wanneer hul kwota bereik is. “Maar as hulle dit nie doen nie, sal ons hul pompe seël om hulle te verhinder om water uit die rivier te pomp.”

Hy het aangedui die toevoer sal met die instemming van die georganiseerde landbou afgesny word.

Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het nie gesê of enige van die oortredings waarvoor kennisgewings uitgereik is, gelei het tot die seël van pompe nie. Dié maatreëls is slegs van toepassing op oppervlakwater; van die boere het wel opgebergde water en sommige het toegang tot boorgate.

BEGIN REEDS SNY

Balzer het gesê daar is reeds begin om water af te sny langs die Bergrivier en Riviersonderend. “Sedert ons die beperkings ingestel het om die stelsel te beskerm, het die landbou en die huishoudelike verbruiker hul toewysings oorskry.” Dit het veroorsaak dat die departement sy stelselontleding weer moes doen.

Op 12 Januarie is toe verdere waterbeperkings in die Staatskoerant afgekondig wat landbougebruik met 60% beperk en huishoudelike en nywerheidsgebruik met 45%. Balzer sê met die beperkingsvlakke wat verlede Desember ingestel is, het die departement die landbou gedwing om water van die vorige hidrologiese jaar oor te dra.

“Van die 58,8 miljoen m3 water wat ons aan die landbou toegestaan het, is van die water wat boere in die vorige hidrologiese jaar verbruik het en daarom het hulle hul beperking so vinnig bereik.”

Hy sê Agri SA, wat baie van die boere langs die Bergrivier verteenwoordig, het hom daartoe verbind om die departement te help om seker te maak dat daar nie van “magstaktiek” gebruik gemaak hoef te word om voldoening aan waterperke te verseker nie.

Teen 15 Januarie het die landbou reeds 44,1 miljoen m3 van sy verminderde geprojekteerde jaarlikse teiken van 58,8 miljoen m3 water verbruik