Die 139 plase wat die ANC geoormerk het om sonder vergoeding te onteien, is grond wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming onder verskeie programme wou aankoop en waar eienaars nie die vergoedingsbedrag wat die grondwaardeerder-generaal vasgestel het, wou aanvaar nie.

Landbouweekblad verneem die ANC het aan die departement sy steun toegesê om te toets of onteiening sonder vergoeding in dié gevalle suksesvol aangewend kan word ná die departement vroeër van voorneme was om beperkte vergoeding vir die plase te betaal.

Volgens die departement is die plase wat vir dié toetslopie geïdentifiseer is, in verskeie dele van die land geleë, en val hulle onder verskeie van die departement se programme, hetsy restitusie of die pro-aktiewe aanskaffingstrategie (Plas) vir die herstel van grondregte.

Restitusieplase

Landbouweekblad het einde 2017 berig dat die hoof-grondeisekommissaris, me. Nomfundo Gobodo, aangevra het dat sewe restitusieplase - wat saam op meer as R57,2 miljoen gewaardeer is - deur die grondwaardeerder-generaal onteien word, nadat die eienaars die staatsgewaardeerde prys verwerp het.

Die kantoor van die grondwaardeerder-generaal is in 2015 tot stand gebring om “billike” en “regverdige” vergoeding vir grond te bepaal wat die staat wil bekom.

Me. Linda Page, woordvoerder van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê dis belangrik om te let daarop dat vir onteiening om plaas te vind, die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, me. Maite Nkoana-Mashabane, ’n kennisgewing aan die grondeienaar moet bedien. Die grondeienaar kry dan die geleentheid om sy kant van die saak te stel.

Groot geveg kom

Teenstanders van onteiening sonder vergoeding het egter ook nou met mening die moue begin oprol om pogings in dié verband teen te staan.

Die politieke party Cope en Agri SA het reeds aangedui dat hulle gereed staan om enige aanslag in die Grondwethof te beveg.

Cope het kort na pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verlede week dat die ANC die grondwetlike wysiging sal ondersteun om onteiening sonder vergoeding toe te laat, laat blyk hy maak hom reg vir ’n regsgeding op grond daarvan dat die aankondiging geskied het nog voor die grondwetlike hersieningskomitee se openbare verhore oor dié kwessie afgehandel was.

Die verhore en openbare deelnameproses is ingestel om te bepaal of ’n grondwetlike wysiging van die eiendomsklousule voorgestel moet word.

Ramaphosa het na afloop van ’n beraad van die ANC se nasionale uitvoerende komitee aangekondig dat “dit duidelik uit die openbare verhore gekom het dat ons mense wil hê die Grondwet moet meer duidelik wees oor die onteiening van grond sonder vergoeding”.

Dié grond in die ANC se visier

Die ANC het reeds aangedui dat hy sal fokus op onder meer ongebruikte grond; vernielde grond waar die eienaar afwesig is; grond wat in onbruik is en vir produktiewe openbare gebruik aangewend kan word;  staatsgrond; grond wat histories deur huurarbeiders bewoon word; grond wat se waarde kunsmatig opgeblaas is weens belegging deur die staat; grond wat vir spekulasie gehou word; grond wat aan die Regering geskenk word; grond wat onteien is gedurende apartheid waar die markwaarde nie aan die oorspronklike eienaar betaal was nie en wat die huidige eienaar nie betaal het nie; en grond van eienaars wat voordeel getrek het uit lenings gedurende die apartheid era, soos boere wat lenings onder markwaarde gekry het en nou markwaarde as vergoeding eis.

Hofsake

Agri SA het ook Maandag in ’n verklaring laat blyk hy staan gereed om die beginsels van billikheid en die beskerming van die regte van die individu tot in die Grondwethof te verdedig.

Mnr. Dan Kriek, president van Agri SA, sê die organisasie sal die situasie fyn dophou en sal by toetssake waar beginsels oor vergoeding uitgeklaar sal word, betrokke raak. “Agri SA het in die verlede reeds by sodanige sake betrokke geraak en sal nie huiwer om dit weer te doen nie.  Dit is die howe se taak om wetgewing en die Grondwet te interpreteer.”

Dit is vir Agri SA ’n prioriteit om meer duidelikheid te kry oor welke plase geteiken sal word. “Dit sou uiters onbillik en onaanvaarbaar wees om landbouers wat grond produktief gebruik om die mense van Suid-Afrika te voed, te teiken en te ontneem van hulle eiendom sonder om hulle daarvoor te vergoed,” sê Kriek.

Teen ongrondwetlikheid

Cope sê hy sal alle vorme van ongrondwetlike prosesse teenstaan, al beteken dit dat hy hom na die Grondwethof moet wend.

Hy verduidelik dat gedurende ’n regs of ’n grondwetlike proses, niemand toegelaat word om die uitkoms daarvan vooraf te gaan of uitspraak te lewer voordat ’n beslissing gemaak is nie. “Die ANC het die sub judice beginsel oortree en dit kan in die Grondwethof uitgedaag word.”

Me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake, sê die hof kan genader word wanneer die finale bewoording vir die wysigingswetsontwerp deur die Parlement goedgekeur is. Wanneer die komitee sy wysigings aanbeveel het en die Parlement dit byvoorbeeld ingestem het, sal ’n wysigingswetsontwerp opgestel moet word. Die normale parlementêre prosedure, wat verdere openbare verhore en skriftelike kommentaar insluit, sal dan gevolg moet word.

Van die gronde waar die hof se hulp ingeroep kan word, sluit in wanneer daar prosedurele foute met die parlementêre prosedure gemaak is of die wetgewing se substansie aangevat kan word.