“Klimaatverandering en aardverwarming is ’n werklikheid. Dit is hiér. Dit is met ons. Berei voor. Lê koolstof in jul grond vas,” het die internasionaal gerekende wetenskaplike prof. Guy Midgley op Graan SA se kongres gesê.

“Jy mors jou tyd as jy steeds aanvoer dat klimaatverandering nie gebeur nie,” het Midgley, wat aan die Universiteit Stellenbosch verbonde is, gewaarsku.

Hy meen die probleem met klimaatverandering kon al tien jaar gelede omgekeer gewees het as wetenskaplikes se vroeë voorspellings en waarskuwings daaroor in die 1990’s ernstiger bejeën was.

Hy het ’n beroep op boere gedoen om met praktyke vir bewaringslandbou, soos geenbewerking, wisselbou, dekgewasse en vee-integrasie in saaiery, die opbou van die kweekhuisgasse te help teenwerk.

“As grond se agteruitgang gekeer word, sal dit ’n groot bydrae lewer om die vrystelling van koolstof in die atmosfeer te verminder. Bewaringslandbou kan ’n groot verskil maak,” het hy gesê.

Noorde nóg erger

Midgley het wel getroos dat Suid-Afrikaanse boere minder aan uiterste weerstoestande uitgelewer is as hul eweknieë in die Noordelike Halfrond. Hy het ’n foto gewys van ’n Russiese koringland wat weens ’n hittegolf aan die brand geslaan het.

Suid-Afrikaners het, gegewe die plaaslike tempo van verwarming, nog ’n dekade of dalk langer om hulself met nuwe tegnologie op sulke drastiese temperatuurstygings en uitsonderlike weer voor te berei, het hy gesê.

Midgley se waarskuwing aan saaiboere volg ’n dag ná die bekendmaking van syfers wat wys dat die Noordpool pas sy warmste winter nóg beleef het. Die ysvolume is op ’n rekord-laagtepunt en die weerstasie naaste aan die Noordpool, aan die bopunt van Groenland, het in Februarie meer as 60 uur lank ’n temperatuur bo die vriespunt aangeteken – iets wat heeltemal ongekend is.

Verwarming

Die erge ysstorms wat Europa en die Amerikaanse noordooste die afgelope tyd geteister het, word wyd deur wetenskaplikes aan dié verwarming toegeskryf.

“Dit is net mal, mal,” het dr. Mark Serreze, direkteur van Amerika se sneeu-en-ys-datasentrum in sy kommentaar aan joernaliste oor die storms en vloede gesê. “Ek het nog nooit iets soos sulke hittegolwe gesien nie,” het Serreze gesê, wat al sedert 1982 die Noordpool bestudeer. Dit is die vierde agtereenvolgende winter dat temperature in dié gebied die hoogte ingeskiet het.