Luidens ’n verklaring word wind van tussen 65 en 100 km/h voorspel, met golwe van tussen 6 en 13m wat oor dele verwag word. Die winderige toestande kan skade aan infrastruktuur langs kusgebiede veroorsaak, lei tot erosie van strande en werksaamhede by hawens ontwrig. 

Die weerdiens maan dat die sterk wind ook ander infrastruktuur kan beskadig, en veral vragmotors word gewaarsku dat hulle omgewaai kan word op hoofweë soos die N1, N2, N7 en R60.

“Sterk noordwestelike winde kan ook weghol veldbrande oor die binneland van die Oos-Kaap veroorsaak,” lui die verklaring.

weerkaart 12 Julie 2020
Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens

Met goeie reën wat reeds oor dele van die Wes-Kaap uitgesak het sedert Donderdag, word oorstromings weens swaar neerslae oor veral die Kaapse metropool, die Wynlande en die Overberg verwag. 

Koue en baie koue toestande word oor die Wes- en Noord-Kaap voorspel, met dié koue toestande wat teen Dinsdag en Woensdag na die res van die land sal versprei.

“Minimumtemperature gaan na verwagting skerp daal, met wydverspreide ryp wat Woensdagoggend, 15 Julie, oor die sentrale binneland verwag word, wat insluit die noordelike dele van die Oos-Kaap, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die verre suidelike areas van Noordwes sowel as oor Gauteng en die Vrystaat,” sê die weerdiens. 

Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens