Luidens ’n verklaring voorspel die weerkantoor swaar neerslae en erge donderstorms, terwyl lae temperature en sneeu op dele van die Drakensberge verwag word.

Dit is die gevolg van ’n afsnylaagdrukstelsel wat oor die land beweeg. Wydverspreide reën, in die vorm van reënbuie en donderbuie, kan vandag oor die sentrale en suidelike provinsies voorkom en dit sal laat vanmiddag en vanaand in ’n oostelike rigting beweeg. Reënval van 20 mm tot 40 mm word binne 24 uur verwag, met sommige gebiede wat meer as 50 mm kan meet.

Volgens die weerkantoor kan die neerslae oorstromings in dele tot gevolg hê, veral omdat die grondwatervlakke oor groot gebiede van die sentrale en oostelike dele van die land betreklik versadig is. “Die Wildekus en die aangrensende binneland kan Dinsdagaand noemenswaardige reënval verwag, wat kan lei tot oorstromings van paaie en ander infrastruktuur.”

In die sentrale dele van die land word erge donderstorms met kwaai haelstorms en sterk wind vandag verwag. Die toestande kan môre ooswaarts uitbrei.

kaart 27 April 2020
Dié kaart dui die gebiede aan waar erge donderstorms vandag (27 April 2020) verwag word. Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens
Kaart 28 April 2020
Dié kaart dui die gebiede aan waar erge donderstorms môre (28 April 2020) verwag word. Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens

Lae temperature word veral môre oor die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en dele van die Hoëveld, insluitend Gauteng, verwag. “Sowat 5 cm tot 10 cm sneeu word Dinsdag op die Drakensberge en die Malutibergreeks verwag.”

Die weerkantoor sal die situasie monitor en Suid-Afrikaners op die hoogte hou van die ontwikkeling van die stelsel.