Luidens ’n verklaring kan die swaar neerslae lei tot oorstromings oor dele van die Overberg en die munisipale distrik van die Tuinroete.

Sterk wind en hoë seevlaktoestande gaan ook langs die grootste deel van die Wes-Kaap se kuslyn voorkom.

Verdere reën word môre oor die suidwestelike dele van die land verwag, en sneeu kan op die hooggeleë dele van die Wes- en Oos-Kaap voorkom, sê die weerdiens.

Geïsoleerde donderbuie kan ook oor die oostelike dele van Suid-Afrika voorkom, met erge donderstorms wat moontlik is oor Gauteng, die westelike dele van die Bosveld in Limpopo, die Hoëveld in Mpumalanga en die oostelike dele van Noordwes. “Hierdie donderstorms kan ook lei tot oorstromings in laaggeleë gebiede en verkeer ontwrig weens swak sigbaarheid, terwyl sterk winde skade kan aanrig in (onder meer) informele nedersettings,” sê die weerdiens.

Die risiko vir wegholveldbrande is vandag hoog oor die sentrale en noordelike dele van die land, maan die weerdiens. 
weerkaart 30 sep 2020
Die verwagte neerslae vir 1 Oktober 2020. Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens

Intussen word die eerste somerreën van vandag  af oor die groter Hoëveld-gebied, wat dele van die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en die oostelike Hoëveld van Mpumalanga insluit, oor die volgende twee tot drie dae verwag. Donderstorms sal na verwagting môre  en Vrydag voortduur oor die oostelike dele van die land, en erge donderstorms is plek-plek moontlik. 

weerkaaart 2 oktober 2020
Die verwagte neerslae vir Vrydag, 2 Oktober 2020. Bron: Suid-Afrikaanse Weerdiens