Luidens ’n verklaring word swaar reën wat ontwrigting kan veroorsaak, van vanmiddag af oor die westelike dele van Noordwes en die noordoostelike dele van die Noord-Kaap verwag. Daaropvolgende oorstromings kan infrastruktuur beskadig, en gewasse en vee bedreig.

Die weerkantoor waarsku dat die toestande môre in dieselfde gebiede kan voortduur, en uitbrei na die westelike en sentrale dele van die Vrystaat.

reënvalkaart 26 Januarie 2021
Die reënvalkaart vir Dinsdag, 26 Januarie 2021. Bron: Die Suid-Afrikaanse Weerkantoor

Dié weerstoestande is die gevolg van die verswakte ekstratropiese laagdrukstelsel, die stand waarna die tropiese strom Eloise verswak het, wat tans oor Botswana is en suid oor Suid-Afrika beweeg. Die stelsel het reeds ’n spoor van verwoesting gelaat oor Mosambiek en die noordoostelike dele van Suid-Afrika sedert dit Saterdag die Mosambiekse kus by Beira bereik het.

Môre sal ’n koue front verby die land beweeg. Die aankoms van die koue front sal ’n verbinding tussen weerstelsels tussen die trope en die buitetropiese gebiede inlui. “Daar kan verwag word dat so ’n samevoeging van weerstelsels sal bydra tot swaar reënval oor die sentrale binneland, aangesien die weerstelsel van wes na oos beweeg,” sê die weerkantoor.

Nóg swaar reën

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê weermodelle dui op baie swaar en aanhoudende reën van 100 mm of meer van 28 Januarie tot 5 Februarie oor veral die sentrale tot noordwestelike dele van die binneland. Dit sluit die grootste deel van Noordwes, die Vrystaat, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die noordelike dele van die Oos-Kaap, die westelike dele van Mpumalanga en die hele Gauteng en KwaZulu-Natal in.

Neerslae van meer as 50 mm per dag kan in hierdie tydperk voorkom, wat hewige stormwater kan veroorsaak, maan Van den Berg. Weermodelle dui tans aan dat verdere sterk tropiese laagdrukstelsels in die tweede week van Februarie weer rondom Madagaskar kan ontwikkel. “Dit kan weer – soos in die geval van tropiese storm Eloise – swaar neerslae oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika, asook Mosambiek en aangrensende dele van Zimbabwe veroorsaak. Die noordelike dele van Madagaskar kan weer erge storm- en reënskade verwag.”

In dieselfde tydperk kan baie warm en droë toestande oor die westelike binneland en die grootste deel van die Wes-Kaap voortduur. Slegs enkele ligte buie kan oor die Suid-Kaap, aangrensende dele van die Oos-Kaap en die suidelike dele van die Noord-Kaap voorkom.